Griet skryf Standerd Vyf

Dis presies so. Die titel, bedoel Griet. Vanwaar hierdie nuwerwetse gewoonte dat alles “grade” is? Elke keer as iemand haar vra in watter graad haar kinders is, moet sy eers wiskunde doen. (en dan tel sy sommer vinnig op haar vingers.)

Vir wiskunde het sy hoegenaamd geen respek nie. Dis ‘n abstrakte wetenskap wat “raai-raai riepa” al om sy eie passer-gaatjie speel, en die doener is heeltyd die fool wat die antwoorde moet uitdink. Nee wat. Vir al daai moeite word Griet liewer ‘n skryfster, want ten minste kan jy die leser histeries maak en n storie eindig sonder ‘n eintlike einde. Vat so vir diegene wat dink dis slim om ander mense heeltyd te beindruk met vrae sonder tal .Almal weet malmense kan aanhou met “wat is”, as genie’s al wil selfmoord pleeg.

Die afgelope drie weke is Griet se aanwesigheid in die huishouding ‘n wonderwerk. Want sy eet, slaap, bad  en bid Wiskunde. Iemand, êrens in donker Afrika, het dit goedgedink om graad sewe’s te lei in die kuns om die bestaan van x, y of z te verklaar. Sommer kwadraat verklaar.Dis eintlik net ‘n verskoning om kinders op te lei in toorkuns. En die sogenaamde dommes te diskwalifiseer vir hierdie tydlose beroep. Die pastorie is sonder ‘n pastoor. Lodewyk se kantoor word bedryf sonder ‘n sekretaresse. Die hele gesin is in onmin. Hoekom?

Kort-om. Wiskunde-ekstra klasse. Griet se eks-Gert  betaal, en Griet verskaf vervoer. Maandae tot Saterdae, en die tweeling leer somme doen. Die juffrou word mal, die ma se senuwees konk in, die pa se bankrekening loop leeg, en die kinders word deurmekaar. Flippen totaal en al onveranderlik gekonfoes. Veral as hulle agtuur in die aand nie kan slaap nie, omdat hulle wonder wat “veranderlikes en onveranderlikes” is.

Wel, hierdie hele palawa het Griet tot een ding aangespoor. Sy het opnuut besef dat haar talente in die taalkundige afdeling hopeloos ontgin is, en dat dit waarskynlik die geval met haar nakomelinge ook is. Wat impliseer dat Griet behoort te doen wat sy al lankal voel sy moet. Sy gaan nou leer Zoeloe lees. Al kan niemand behalwe ‘n Zoeloe dit uitspreek nie, sal sy dit wragtag kan verstaan.

Van volgende week af leer elke lid in hierdie huishouding ‘n nuwe taal aan. En Lodewyk? Hy praat in alle geval Alien en speel rekenaar-oorlog. Hy is reeds op ‘n nuwe planet.

Als beter as somme.

Griet neem Waarnemingskunde 101

‘n Nuwe stokperdjie het Griet se lewe getref. Van kleins af is sy in die geheim verskriklik lief om prentjies in te kleur. Met haar geronddwalery op Bakkiesblad kom sy toe per ongeluk op ‘n advertensie af wat praat van “inkleur vir grootmense”. En net daar laat waai sy na haar naburige dorp toe, kry ‘n boek en ‘n trok vol potlode, en begin skakeer. Nou sal elke middelmatige intelligente mens  vir jou kan sê dat enige dier wat gestimuleer word, onmiddellik allerhande nuwe truuks begin wys.

Heel eerste kom Griet agter dat sy van nature ‘n oog het vir koue kleure. O ja en neutrales, en pienk werk ook goed. Salig maak sy vorms en skakerings en raak liries oor haar skeppings.

Tweedens kom sy agter dat sy seker maar ‘n happie weg het êrens, want hoe abstrakter die vorms, hoe lekkerder die gekleurdery. Sy wil asseblief nie voëltjies, teepotte, huisies en perde inkleur nie. As dit ‘n psigoanalis sal bekommerd maak, laat dit Griet lekkerkry.

Derdens besef Griet sy het nul gevoel vir warm kleure. Sy sit ‘n halfuur lank en inspekteer haar geel, oranje en rooi potlode se skakerings, en maak ‘n paar griffels op papier. Toe besluit sy na sewe en veertig jaar se vaste beginsels om op te hou om bruin te verpes – want dis al wat haar gaan red van die kakofonie van rooi en oranje en geel wat haar oë laat draai soos die slang s’n in The Jungle Book.

So vyf jaar gelede het Griet saam met ‘n vriendin kunsklasse bygewoon. Vriendin was eenvoudig doodgewoon kunstig. Sy kon skets en verf klap op enige doek en KAPAA! daar is ‘n skepping. Die kunsonderwyseres het aanbeveel dat Griet ‘n collage doen. Want, het sy gesê, sy moes Griet eers MET TYD gewoond maak aan kleur. En Griet versimboliseer alles, maar alles. Sy is ‘n simboliese mens. Dis die dat Griet besef het die vrou moes doodeenvoudig vir haar gesê het: “Hartjie, jy moet gaan kyk hoe kleur mens in. Vat die kleurwielietjieboekietjie en gaan speel met die kleurtjies in klaar getekende prentjies en as jy klaar is kom leer juffrou jou teken.”

Soos met alles in Griet se lewe, werk tuisonderrig die beste. Griet is nie op die standaardmetode van opvoedingskonsepte opvoedbaar nie. Sy is soos spesiale kinders. SY IS ANDERS. Want Griet leer as sy iets SELF doen, en iemand met ure se geduld tussendeur hier en daar ‘n aanbeveling maak. Eendag moet daar bo aan haar grafsteen staan: “SELF doodgegaan.” Dis ook hoekom sy per e-pos studeer, en bull terriers gaan koop het en hulle toe leer groot maak het. SELFBESKIKKING, SELFBEMAGTIGING, SELFOPVOEDING. En dis ook hoekom sy geskei het. SELFAKTUALISERING.

In alle geval.

Terwyl Griet so besig is om kleure te mix en te meng, en te speel sy is ‘n Indiër-ontwerper in ‘n tekstielfabriek, begin sy natuurlik aan ander nonsens ook dink. Die brein werk so. SELFVERBETERING. En dis in hierdie stadium van briljansie en genialiteit dat Lodewyk per ongeluk voor haar verbyloop, terwyl sy Ousus vra om die ligte aan te sit. “Ja, as die ligte aan is moet die girdyne toe.” preek Lodewyk ewe Pa-erig, net om ‘n eier in te gooi van die kant af.

Griet sit haar potlood net daar neer. Sy kan nie glo wat sy hoor nie. Haar supersensitiewe brein het iets verskriklik viesliks opgetel. Erger as ‘n vloekwoord. En sy begin onbedaarlik giggel. Lodewyk die Opgevoede het so pas in die gat van platvloersheid getrap. PLENG. Gat oor kop. Sonder dat hy weet, want Sy Bedaarlike Hoogheid is mos Duits.

Jy sien, as kind het Griet mos by haar ouma en oupa aan moederskant grootgeword. En moeder self was vreeeeeslik bewus van taalkunde. Mens het gepraat van “sitvlak”, nie “boude” nie. Al is jou gat dood gesit. Jy het per ongeluk oepsie ‘n windjie gelaat, al poep die hele geselskap van ertjiesop. Vloek was geheel en al UIT, buite die kwessie. Moeder het ‘n lysie van woorde wat “platvloers” was onder jou aandag gebring, en wat nóóit gebruik mag word in keurige Afrikaanse geselskap nie. Ja, julle raai reg.

Griet se eerste tjom in haar nuwe dorp bly net bo in die straat. As sy en Griet te veel verlang, stap Tjom sommer met haar koffiebeker, slaapklere en slippers gou af na Griet toe. Dan sit hulle op Griet se stoeptrap in die son en drink twee bekers koffie en lag oor suur mans en stout kinders, en gaan doen dan hulle dag se werk. Sulke tye skree Tjom padop: “Susaartjiè!!!!!! Maak toe die blerrie GIRdyne, jou oë mag nie lig kry saam met die masels nie!!!” want Tjom kan van die stoep af sien wat by haar huis aangaan. (O ja,Tjom het ‘n bol krulle wat sy net kam as dit broodnodig is.) Lodewyk het in ‘n pastorie grootgeword, en het aanvaar dat sy huis vanselfsprekend een van stilte en geseglikheid wees. Hy val by die voordeur uit en maak groot oë. Griet hou haar blind, duik onder haar tjom se sigaretrook deur en drink vrek lekker aan haar koffie. Die sonnetjie skyn en die lewe is mooi.

Tjom beduie dat sy haar jaart gaan skoonmaak en gaan grassny, en Griet lag oopbek. Want haar ma klap haar bek toe as SY sê “jaart”.

Sy love al die kinders in die dorp wat vir haar sê “antie”, sy waai deur ‘n oop venster vir die “sekuritie” by Standard Bank, sy het geliefkoosde “spietkops”, sy “laaik” die ysies wat by die “taxi rank” verkoop word. Sy eet haar “toast” laat die krummels waai, sy is lief vir haar “BFF’s”. En sy sing in die “apostolie kerk” waar hulle hande klap en skree.

Jy sien. Moenie die dag van klein dingetjies onderskat nie, moenie kinderlikheid vlak kyk nie. Die optel van een of twee potlode, en jy sien baie dinge skielik anders. Jy hoor weer anders. Dit maak weer ‘n juk in jou vngers om ‘n storie te skryf. En ‘n storie gee jou weer lus vir ‘n paar fotos neem sodat die mense mooi kan sien wat jy bedoel. En dan onthou Griet sy wou verskriklik, maar verskriklik graag spotprente kon teken. Sjoe, sy het skoon daarvan vergeet. Sy moet dadelik ‘n handleiding daarvoor gaan Google. Sy het juis ‘n gratis website gewen, sê haar email. Dink net hoe kan almal lag as sy kan teken wat sy sien. Want sy belowe dis VERSKRIKLIK snaaks.

Skielik is die lewe sommer kleurvol.

Griet se Kar

10436200_906409002745066_148955088313488026_n

So ongeveer tien jaar gelede het Lodewyk vir Griet ‘n wit motortjie aangeskaf. Presies volgens Griet se spesifikasies, behalwe wat die kleur aanbetref. Griet hou niks van wit nie, sy wou silwer hê, maar taffies vir haar. Daar was ‘n witte beskikbaar, en baie dankbaar het sy ontvangs geneem van haar tjor. Klein, vierkantig, en sy kan zip zap met die gedoentetjie deur die verkeer (?!) jaag en hoef net parallelparkering te doen as sy windtie voel.

Saterdag gebeur daar toe ‘n wonderwerk. Die tweeling gaan kuier by tjommies, Ousus wil huis oppas, en Griet en Lodewyk gaan op ‘n uitstappie na ‘n naburige dorp. Hulle gaan ontbyt eet daar, en sommer nuwe koord-fone aanskaf vir die kantoor. Aangesien die tweeling die koordloses gaps en in die kamers gaan chat met vriende, die apparate in hul kaste vergeet, en niemand die kantoor kan bestuur as dit bestuur moet word nie.

So tien minute in die reis in frons Lodewyk geweldig. Griet loer so onderlangs na hom. Sy is besig om kalm te wees en lipstiek op te sit, wat natuurlik haar leuse is op ‘n uitstappie. Verder sit en droom sy oor haar voorgenome ontbyt. “Die kar se balans is uit.” sê Lodewyk. “Ag moenie worry nie,” is Griet se antwoord. “Hier is lekker baie potholes, ons ry net deur ‘n paar en ons skud hom weer terug.” Lodewyk probeer nie eers glimlag nie. “Dis verskriklik erg tussen 80 en 100, voel net” en hy sit Griet op ‘n high voltage vibration kursus.

Griet voel vere. Niks gaan haar droomuitstappie bederf nie. Sy gaan eet haar ontbyt, koop goeters vir haar nuwe stokperdjie, doen windowshopping, en geniet die lewe. Hulle ry terug en Lodewyk pomp gou die bande en gooi petrol in. Lekker man, lekker.

Ses kilometer verder en KABAM!!! Griet sit penorent. “Wat het nou gebeur??” skree-vra sy. “Die wiel het gebars” antwoord Lodewyk kalm. “Nou wat nou?” vra Griet. Dis presies 120km huis toe, klein bietjie verder as wat sy daagliks stap, of van plan is om vandag te stap. “Ons gaan die wiel omruil,” antwoord die immer kalm Lodewyk. Hy klim uit, haal die spaarwieletjietjie uit (jip, maerder as ‘n mariebiscuit op dieet) en sê sy vrou moet kywie hou. Mens kan nie op ‘n ordentlike plek stop nie, en in Natal bestuur die mense soos wat hulle stem. Gelukkig het sy ‘n wit driekwartbroek aan en het die laaste drie jaar lekker stewig geword, so Griet plant haarself soos ‘n standbeeld in die middel van die pad, sit haar Paul Kruger gesig op, en steek haar vinger in die lug as dit net lyk asof ‘n kar wil aankom. Niémand gaan háár Lodewyk vandag so plat soos ‘n padda onder haar eie kar inry nie.

Tuisgekom, parkeer hulle vir kar in die motorhuis en wag tot Maandag. Toe begin die rusie. Griet het ‘n sprankie Joodse bloed, en voel boggerol sleg om ‘n kliënt te kontak en te vra vir ‘n goeie prys. Aangesien Lodewyk alewig sy alie afwerk vir Peanuts. Lodewyk neem al weer die ‘high moral route’ en sê sy mag die prys uitvind maar onder geen omstandighede sy naam, haar naam of die praktyk se naam bekend maak nie. Griet gooi amper op.

Die uiteinde van die saak is dat die band vervang word, en als gebalanseer word, teen eenduisend tweehonderd rand later.

Dis niks. Later die middag kry Griet ‘n brief op haar tafel. Haar bestuurslisensie gaan verval. Sy slaan bollemakiesie agter haar tafel en skree en huil soos net sy kan. Gelate betaal haar kalm man die bedrag oor na haar rekening, en gelate hoor hy haar tirade aan omdat sy nou in die tou moet gaan staan op die &%^*(#$ lisensie te gaan betaal.

Die stof het net gaan lê, toe kom Lodewyk van die posbus af. Met ‘n briefietjie. Die briefietjie stipuleer: Betaal jou bestuurslisensiekaart, die ding gaan verval. Griet drink ‘n kalmeerpil en gaan bad. Vanweë haar genetiese samestelling is sy geheel en al allergies vir munisipaliteitskantore, die konsep van om in ‘n tou te staan, en oogtoetste te doen, en die blote gedagte aan vingerafdrukke maak haar histeries. Omdat dit beteken dat mens in verskillende toue moet staan.

Vanoggend vroeg gaan trek sy toe maar geldjies, verbrands amper vyfhonderd rand, laat neem kiekies wat haar amperse dubbelken wys, en word nommer een voorgekeer deur ‘n …. spietkop. Sy wonder nog wat het sy verkeerd gedoen, toe daar om die beurt ‘n vangwa, ‘n gevangenismotor, ‘n spietkopkar en dan die hele sous van voor af drie keer oor verby haar gejaag kom. “Ag dis niks;” troos die fotograaf by die id foto afdeling. “Daar het maar weer ‘n bandiete uit die tronk ontstnap.” HET ONS DORP SE TRONK NIE SLEUTELS NIE?!

Griet verskuif munisipale toetsgronde toe. Daar is vyf persone in die kantoor. Sy, ‘n oom wat wag, ‘n meneer wat instruksies gee, iemand wat lekker met die meneer gesels, en ‘n dame wat weg is wat netnou sal kom. Sy voltooi haar papiere en wag. Na ‘n halfuur maak die man langs haar keelskoon. “Verskoon tog” vra hy bedaard aan die meneer wat instruksies gee. “Wat gaan aan? Wanneer word ons gehelp?” “Eh…. ” word daar geantwoord. “We are waiting on a madam.” “Oh.”

Griet en die man wag. Toe gesels hulle maar. Hy vertel was vroeër jare stasiebevelvoerder hier. En dat hy ‘n paar luies ‘n taai klap of twee gegee het. Griet luister met ‘n houtoor, sy het al baie stories gehoor. Maar dis aangename geselskap. Veral toe die man langs haar hardop wonder wat gaan gebeur as die tafel waarop die meneer ry se pote ingee en breek. Griet kyk ondersoekend, en ja wragtig, die skarniere is gaar en die hele besigheid staan klaar skeef. Maar die geselskap is so driftiglik, die geselskappers kom niks agter nie. Ewe skielik kom daar ‘n donkerkoptannie om die hoek gedraf.

“James!” skree sy. “Hier is jy!” “Ja!” skree Griet se geselskapsheer terug. “Is hier nie tee vir twee nie?” “Nee!” word dit geantwoord. “Magtag dis lekker om jou na al die jare te sien!!” en kwetter kwetter kwetter gaan die bekke. Griet word naderhand geroep om in te gaan vir die toets, maar dis James se beurt. Sy volg sy voorbeeld en skree: “Hey, kom jy is eerste!!”

Hy draai om en skree terug: “O ja, julle, ek het vergeet om te sê: Ek het my dogter saamgebring! Is sy nie te pragtig nie? Gaan jy solank hoor, ek is net na jou daar!!”

Griet se bek hang oop.

Sy het ‘n gebedjie opgesê dat die besigheid klaarkry, maar sy het nie gedink ‘n engel gaan rerig aarde toe kom net om aan haar behoeftes en nukke aandag te gee nie.

“Dankie Pa, ek is nou klaar!” skree sy.

En later, toe sy voor James in die laaste tou staan, draai sy om en sê vir hom met ‘n breë grinnik: “Weet jy, ek wil al wie weet hoe lank so graag ‘n Pa hê. En hier tel ek sommer een op. BAIE dankie hoor.”

James knipoog.

En Griet stap uit, haar droom waar gemaak op ‘n baie, baie weird manier.

Weerwraak is soet…

Griet sit onskuldig en blaai deur bakkiesblad. (Facebook vir die van julle wat ook gemieksde Afrikaans praat soos sy.) Sy is rustig, en nie aan die skoorsoek met haar medemens nie. Dit beteken natuurlik GLAD NIE jou medemens gaan JOU uitlos nie né. Sy moes geweet het.

Drie weke gelede het sy haar jongste dogter getroos nadat ‘n klein ….snuiter… sal sy hom nou maar noem, haar gelos het vir ‘n ander meisie. Die ander meisie het met byvoordele gekom. Blykbaar baie verskillende soorte byvoordele. En wat sê die manlike klein loslappie vir Griet se spesiale pragtige kind toe sy hom vra hoekom hy haar BFF (Boring Farty Friend) date?! Hy sê “ag man ek het jou net gedate want jy het altyd geld”. En Griet moet ‘n stukkend gebreekte hart heelmaak. Geld is die wortel van alle sondes.

Griet is nog besig om hierdie nare gebeurtenis te verwerk, toe ‘n vriendin van haar ‘n boodskappie publiseer op Bakkiesblad. Om wat te sê?? Om alle VOORNEMENDE SLEGTE MEISIES te waarsku om haar perfekte goue oulike seuns uit te los!!! Mense julle moet bedag wees. Die duiwel is listig en ons leef in gevaarlike tye.

Net sodat julle verstaan hoe Griet voel, publiseer sy ‘n kopie van die blessitse berig vir julle:

“RULES FOR DATING MY SON” 

1. He is not your ATM

2. If you show up to my house looking like a stripper, I will make you go away.

3. If I see any ‘sexts’ on his phone, I will make you go away.

4. Understand that if I don’t like you, I will make you go away.

5. Understand that I can make you go away.

6. He is a “Mama’s boy”. Unless you have a ring on your finger, your opinion of that does not matter. 

7. You are not in charge of him and it is not up to you to change him. Take him for who he is, or see rule # 5.

8. He is a gentleman. I taught him that. You better act like a lady and deserve that. 

9. I know how to avoid jail. 

10. If you weasel your way past all these rules and fake your way to a ring on your finger, I will be something much worse than your boyfriend’s mom. I’ll be your mother-in-law. 

Griet maak twee koppies koffie en probeer dink voordat sy moord pleeg.

Het julle gelees hoeveel keer kan die mamma die onskuldige dogtertjie “maak verdwyn”?

Griet kners op haar tande. Sy bid, maar dit help nie. Sy gaan skep poeding in maar dit neuk net haar bloedsuiker op. Die duiwel klim in haar hart, en dis baie moontlik dat haar bloeddruk 300 oor 200 is. Sy is lus en gaan stop by die gentleman se ma en vra hoekom het gentlemans dan goorgomgatslapjanwolfinskaapklereuilskuikenvarkagtige vriende wat prinsesse uit die boonste rakke se harte breek met kommin-soetsappige-romantiese-vyestroop-liegliefdespraatjies, veral omdat sy geld in haar beursie het.

As mens so kwaad is, moet jy kophou. Jy moet onthou jy is kwaad vir die klein melkbaard en sy gewaande vriende, nie die gentleman se ma nie. Griet moet toegee, sy ma kan ‘n goeie brief tik. Taktiek. Taktiek is die groot ding in oorlog. Griet dink. Meteens ontplof haar kop amper.

Sy het ‘n antwoord!! Gentleman het ‘n suster ook. Toevallig het sy ma nie ‘n briefie geplaas oor goor seuns nie, want sekerlik is gentleman se hart ook op die oomblik gebreek deur ‘n sletterige klein BFF genaamd Slimey Cyrus. As die vrou sulke oulike notisies kan plaas, kan sy sekerlik ‘n notisie vir prinsesse ook opstel. Griet doen navraag en tien minute later pos die ma wraggies waar een. Griet lees dit aandagtig deur.

Mmm. Goeie stukkie skryfwerk. Hier en daar nie heeltemal dodelik genoeg nie, so sy fieks dit bietjie. Maar háár lysie is sommer ‘n waarskuwings-aansoekvorm van drie bladsye lank. Sy dink daaraan om ‘n voorblad te maak van haar drie bull-terriers terwyl hulle ‘n prooi verskeur en dit op die aansoekvorm te plak. Onderaan kan sy altyd tik “Oorblyfsel van vorige goorgomgat”. Wat ‘n gedagte. Fantasmagories.

Sy lees haar aansoek deur en dit lyk vir haar sommer baie goed.

AANSOEK VIR TOESTEMMING OM MY DOGTER TE MAG UITVRA

1. Alle aansoeke moet vergesel word van 5kg of meer Sjokolade. ‘n Drie weke vakansie vir die Ma by verskeie oorde van haar keuse, spa-behandelings, flieks, konserte, uiteet en enige vermaak ingesluit, in ag genome dat sy ‘n vriendin ook mag saamneem. Met die invul van hierdie aansoek word aanvaar dat Ma die reg het om PRESIES ALLES te weet wat in die verhouding aangaan, dat sy foongesprekke na hartelus mag afluister, boodskappe mag lees sonder om “passwords” te vra, haar dogter se kant enige tyd mag vat, en die aansoeker in die publiek mag uitkryt as hy hom soos ‘n ketter gedra.

2. Jou aansoek sal as onwettig en ongeldig beskou word as die volgende dokumente nie ingesluit word nie: 

a) Bloedtoetse van 1 jaar op ‘n daaglikse basis om te bewys jy drink nie.

b) Longkapasiteittoetse van die Sportinstituut van Pretoria om te bewys jy is bogemiddeld fiks.

c) Volledige finansiële state van die afgelope DRIE jaar van jou, jou pa en jou oupa. Asook ‘n beedigde verklaring dat niemand in jou familie bedrog gepleeg het nie. 

d) Familiestamboom vir die laaste 200 jaar. (As enige iemand in jou familie skeef of ‘n Anglo – Boere Oorlog Hensopper was, moet jy nou hol)

e) Afskrif van jou bestuurslisensie en verslag van ‘n Psigiater. (‘n Blerrie GOEIE een). 

e) Verskaf asb:

Jou naam: …………………..                  Jou bynaam (Voertsek byvoorbaat as jy Apie of so iets is) …………

Jou id:…………………………                  Lengte……………….   Gewig…………… IK…………………. 

Skoolgemiddeld: …………………….. Voortrekkerrange: ……………………………………

3. Is jou pa ‘n man en jou ma ‘n vrou???………………………………………………………………

4. Heg aanbevelingsbriewe van jou vorige meisies aan.

5. Sal jou ma en pa hulle vrywillig aan genetiese toetse onderwerp of sal hulle verdoof moet word?

6. Bel en laat weet wanneer is die beste tyd om die volgende persone te ondervra:

 Jou kleuterskooljuffrou, jou ma, jou pa, die dominee, die skoolhoof, die buurtannie.

7. As daar op jou geskiet word, waar moet daar verkieslik misgeskiet word?

8. As daar van jou bene gebreek word, watter moet verkieslik heel bly?

9. Wat is jou mening? Waar is ‘n vrou se plek??

10. AS jy grootword, wat sou jy wou word?

11. Skryf ‘n opstel oor GEHEELONTHOUDING.

12. Skryf ‘n opstel oor KUISHEID.

13. Wat beteken EERLIKHEID?

14. Wat verstaan jy onder “MARTELDOOD”.

15. Het jy ‘n naeltjiering, ‘n oorbel, of ‘n tatoeërmerk, of enige iets wat jou laat lyk na ‘n wilde kreatuur wat verknog is aan water? Verstaan en onderneem jy, jy mag jy nie met my dogter op bote rondry in damme, riviere of die see nie? Onderteken. 

16. Verstaan jy “Laat” beteken “so laat soos wat die tannie vanaand sê?”

17. As jy vertroud is met die inhoud hierbo, teken hier OP EIE RISIKO. 

Griet grinnik.

Op haar dae was sy heeltemal te outyds om raakgesien te word. En so een of twee parmantige universiteitsmanne het haar probeer ore aansit. Haar pragtige dogters vir die wolwe gooi? Not a dêm. Sy het boonop ‘n klein geheime “score om te settle” as gevolg van so een of twee outjies van jare gelede wat haar ook verruil het vir BFF’s.

Die vormpie behoort te doen. En as dit nie werk nie, maak sy maalvleis en Brooklax.

Griet bly kalm.

Griet het pas haar Time Magazine van die week gelees. Ja, haar plaaslike Facebook Nuus. Sy weier om enigsins Televisie te kyk, dit meng nie met haar bloedgroep nie en veroorsaak Alzheimers. Sy kan glad nie ‘n radio verdra nie, kleintyd het haar ma altyd gesê sy mag net Siembamba luister. En toe kry sy een middag lus vir die bose, en gaan eet saam met haar tjomme gekookte kondensmelk en luister na “Wolwedans in die Skemer”. Nee, te dinges. Radios is vir Pa’s wat tuinwerk doen, en dan bier drink terwyl hulle rugby luister en vreeslik moeg lyk.

Griet moet erken dat sy nie ‘n “ore”-mens is nie. As die buurman en sy vriende hoog in die takke is van aaptwakkies rol, is nie een van hulle lagbuie vir haar vreeslik snaaks nie. Kar-enjin rev is vir haar eenvoudig. Sy kan net nie werk en musiek luister nie. Hoe dink en luister mens saam? Haar kop wil stry met die wysie van die musiek, haar logika wil stry met die argument van die filosoof, haar oog is besig om soos ‘n meester-rekenaar elke spelfout uit te sif, te kritiseer en te elimineer, en haar siel wil nadink oor die diepere aspek of die derde dimensie van dit wat sy tans besig is om te beleef of te leer. En dan, behalwe die wysie wat skeef is, verander die kunstenaar midde in als sommer die “tyd” van die musiek, slaan oor in ‘n ander sleutel, sing woorde wat rym maar wat boggerol sin maak (“kan jy by my kom lê, ek is ‘n loslappie” – hoe kan jy by ‘n loslappie slaap, duidelik slaap iemand anders al klaar onder die lappie…?? – ag asseblief).

Dieselfde geld vir gesprek voer. Dit slaan Griet stom hoe sommige families kommunikeer. Pa praat oor Ouboet se kop met Kleinsus terwyl tant Koekie vir ouma Dora skree wat langs Ma sit, en Ma praat met tannie Elize wat oor die draad hang. Tannie Elize wil iets weet van die skool se skaaktoernooi, want oom Boet het gaan visvang en Kleinboet is saam en Ouma Dora wil vetkoek bak, maar tant Koekie sê oor haar dooie liggaam kry die seuns iets as hulle wiskunde huiswerk nie voor vanaand gedoen is nie. Kleinsus is dadelik opgeruk en skree Pa moet help want sy en Ruan van langsaan het met oom Boet gereël dat hulle sokkie toe kan gaan. Hulle wil nie vetkoek hê nie, hulle wil gaan dans, rook en skelm vry. He?!!!?

Dit bring ons by die eintlike tema van Griet se skrywe. Die liewe woordjie “CHAOS”. Geen wonder die woord impliseer soveel wanorde, gemors, vulkaniese ontploffing-agtigheid, totale gebrek aan beheer, wildheid, ongetemdheid (sonder passie en mét vullis), angstigheid, gemorste koffie, beblertste dokumente, pap wiele, raakgeryde katte en geklapte kinders in nie.

En net om dinge af te rond, het Griet haar eie persoonlike lysie begin maak. ‘n Lysie van dinge wat vroëer in haar lewe gewerk het, maar nou vanweë CHAOS uitgedien geraak het. Sy skryf:

1. Die Munisipaliteit. Haar kinders praat nie meer van “potholes” nie, maar van “potholle”. As sy en haar tjom Hanna êrens heen ry en ‘n verversinkie soos ‘n ou Wimpy koffiekie geniet, drink hulle dit maar soos ‘n shower van die kar se dak af. Want Griet koes dat hulle nie in ‘n “never-ending-hole” verdwyn nie.

2. Telkom. Eers het Griet gedink dis net haar familie in Johannesburg wat opgeskeep is met die euwel van Telkom. Internet wil dag en nag NIE werk nie. Snaaks, Griet het eintlik gedog dat internet beteken mens is feitlik altyd en oral beskikbaar. So maklik dat dit amper lastig is. Maar hier in Afrika verander dinge nou. Hier kan jou familie en anties en omies vir weke wegraak en stilte jou vriend word.

3. Eskom. Griet het van daai nuwe Colgate met Active Salt gekoop om haar te herinner dat die Bybel sê ‘n mens se woorde moet met sout deurdrenk wees. Vloek is so uit soos koekies in die weeshuis. Genoeg om te sê dat “spoorlose, draadlose, kabellose” Afrika, ook nou “donker Afrika” geword het.

4. Nou wonder Griet skielik. Hoekom werk die Lotto tiekets nog??? Ok wag dis eintlik nie deel van die lysie nie. Wag sharrap, netnou kry iets of iemand êrens ‘n verkeerde idee.

5. Pay-point masjiene. Dis ‘n snaakse een. Mens moet twee weke se kos koop, en dan jou bankkaart indruk by die masjientjie, en dan se Emily of Portia hulle gaan die manager roep. Die manager kom baie stadig, want belangrike mense loop lank aan ‘n kort entjie. Hulle vat jou kaart en dan trek hulle die kaart liewer deur die gleufie. Hulle frons baie en trek en trek en trek. Dan praat al die mense saam en Griet verstaan niks, en iemand sê iets van “offline” en Griet dink aan die kind wat op die selfoon speel en die babahond in die kar. Sy weet die hond eet nou die rathefboom en die kind “delete” al haar “contacts”. Die manager stuur haar van een pay point punt na die ander, en net voor sy uitpaas, gaan die koop tjoef tjaf deur. Griet hol kar toe, en die kind skree: “Ma die hond het gepie in die kar. Waar was jy?” Dan moet Griet stilbly want ten minste het die kind nie ‘n glips gehad nie.

6. Openbare toilette. Knyp en ruk en rol deur potholle en slaggate. Kom verlig aan by ‘n vulstasie en hol met jou tweerand stukkie vir die naaste la-die-da’s. En kaboem, die betaalkassie is gejêm. So wat nou?? Jy glimlag vriendelik, druk die geldjie in by die  deur van die mansbadkamers, stap in en stel jouself voor, belowe jy sal nie lipstiffie opsit nie en maak so spoedig moontlik klaar. Viva Afrika, welkom by die reënboognasie waar seuntjies en dogtertjies nou saam piepie.

7. Vulstasies sonder petrol. “Sabona kunjani e wena okae more gutentag hallo dag.” En nou? Nou geen petrol nie, die trokdrywers staak. Suid-Afrika is sonder krag, sonder internet, sonder paypoints, sonder petrol, sonder paaie en ons blase is vol. ‘n Paar ander goed is ook op. Soos ons geduld.

8. Skole sonder subsidies. Maar propvol stupidities. “Geagte Meneer/Mevrou. Die skool se KOPERpype is gesteel en die toilette loop oor. Ons doen wat ons kan om die krisis so gou as moontlik reg te stel. Die kinders kan nommer 1 as dit moet, maar nommer 2 is uit.” Ekskuus? Griet wil nie graag raadgee met steel nie, maar persoonlik sou sy liewer telefoondrade verkies het. Higiëne behoort darem ‘n rol in ‘n mens se lewe te speel.

9. Strate en asbliksakke. Dis skielik verskriklik maklik om te glo die duiwel en demone bestaan. Vir diegene wat sukkel daarmee, nooi Griet innig om saam met haar te kom draf op ‘n Maandagoggend. Eerste hardloop sy verby ‘n plastieksak met takke om dit. Die eerste oggend het Griet amper uitgepaas toe “iets” vingers deur die plastiek steek en begin beweeg. Dit was ‘n mens wat daar slaap. Nou hoor sy haar tjom lewer vir die mens gebalanseerde maaltye af. Die res van die dorp het “asbliksak-speurders”. Hulle skeur, verskeur, maak bymekaar, en roep medespeurders in om te kom help bymekaarmaak. Teen die tyd dat hulle klaar is, lyk die dorp soos ‘n publieke ashoop. Maar dis ok, dit help Griet vinniger fiks word. Sy hardloop dat sy bars verby party mense se huise. Sy weet nie WAT hulle eet nie, maar mensdom, dit het ‘n naklank.

In alle geval.

Griet is nou moeg. Moeg vir gemors, chaos, als gelyk, geraas, gate, gopse, en haar eie groot ……….. wat al hoe groter word. Sy dink volgende keer moet sy skryf oor dieet.

Griet se Knak

Griet weet iets wat nie almal weet nie. Sy weet dat sy vandag drie weke kort van ‘n jaar vir Lodewyk werk. Weereens. Sy weet ook dat sy hom oor drie weke gaan verras met “Annual Leave”. Want sy is OP vir sy kliënte se probleme. Nee, lees reg.  Nie die kliënte nie. Die probleme.

Om 6h14 voormiddag begin dit: “Goeiemôre. My takbestuurder het nie opgedaag nie en ek is in die Kaap. Bel hom asseblief en sê hom hy kry nie pay nie, want hy is !@# lui”. “Ahem. “Goeiemôre meneer van Zyl. Nee ongelukkig mag ‘n mens nie net salaris aftrek van ‘n personeellid (en amper sê Griet nog ‘gemeentelid’ ook, want sy is nog nie mooi wakker nie), alvorens jy nie vasgestel het hoekom en waarom hy afwesig is nie. Ensovoorts ensovoorts…” En dan dring die oproepmaker(oproermaker??) aan om met Lodewyk te praat wat in die bad lê en dink. Lodewyk verduidelik altyd dat hy sy dag lê en beplan, maar Griet is heimlik seker hy roep voorvadergeeste op om hom te help met tawwe beroep. Sy wens Lodewyk wil meer kerk toe gaan.

So gaan dit heeldag, en vanaand as die kindertjies om 20h45  skielik onthou hulle het meetkunde huiswerk, bel iemand gou gou om te vertel sy drywer het diesel gesteel en sommer vleis ook. En die unie en die hele dorp weet al, net Lodewyk nie. Dis dan dat Griet besef sy is in ‘n unieke posisie. Sy leef naamlik saam met die nimlike antichris onder een dak, en sy ken hom by naam. Sy naam is A-R-B-E-I-D-S-R-E-G.

Dit help nie net dat Griet geswot het om pastoor te wees nie. Dit verander niks aan sake dat sy ‘n modelmoeder en ‘n voorbeeld vir die samelewing wil wees nie. Hierdie MONSTER krap haar om. En haar huishouding.

ARBEIDSREG respekteer geen mens se ablusiegerief tye nie. Dit het eenvoudig geen agting vir middagete, aandete, ontbyt of privaatheid nie. Uit die aard van die saak dat dit deur alle bevolkingsgroepe beoefen word, mag die groepe hulle geloof beoefen, en moet die praktisyn asseblief ‘n praktiserende ateïs wees. Tough luck selfs vir Boeddisme, daar is nie tyd vir mediteer nie.

Die beste van als is, dis fantasties as die vennoot in die praktyk ‘n pastoor is. Ja, heeltemal reg gehoor. Want als wat nie reg gedoen is nie, kan sy sommer regbid. Griet bid gereeld vir uitsprake, dat Unies moet opdaag of liewer glad nie opdaag nie, dat iemand nie moet lieg nie (sy bid dit op permanente basis), sy bid al oopoë en terwyl sy haar Kelloggs eet dat ons asseblief al vandag se dokumente met die eerste oogopslag sal kry, en dan bid sy sommer dat niemand bankrot speel nie, sodat Lodewyk welvarend bly. As iemand staak, bid Griet dat hulle ontstaak, maar snaaks genoeg, dit het nog nooit gebeur dat sy moes bid dat mense moet rus omdat hulle net nie wou ophou werk nie.

In alle geval, Griet is nou so op vir die gejaag soos ‘n skoolmeisie vir lang kouse. Sy voel oor ‘n kantoor soos ‘n mens voel oor pers chappies in lang hare. Sy is so dik vir foon antwoord soos vir ‘n zit tussen haar oë. Beelde flits voor haar geestesoog van vakansies in die Tsitsikamawoud. Sagte reën, groen plante om jou, al stappende met ‘n reënjas en stewels aan om als te beskou. Warm koffie in knus Kaapse reënweer, stories lees en skilder, en mossels vir aandete. Lang stiltes langs die see en skulphangertjies om jou nek terwyl jy kaalvoet loop in die dorp. Jou arms en hande vol olieverf, en jy skilder en skryf en sing net wanneer jy wil.

Griet besef sy is besig met dagdromery. Die sielkundiges noem dit ontvlugting. Die ergste is, in die sestigs het haar ma en pa en ooms en tannies waarskynlik dagga gerook en Jimmy Hendrixs geluister, en maklik in een middag oor al hulle komplekse gekom. En ouma en oupa weet nou nog niks. Nou wil Griet al haar spanning met drie weke se vakansie regmaak. Sy voel sommer lus en knak. Maar nie knak om te breek nie. Knak en terugskiet. Soos een van daai vere wat altyd aan die destydse damestoilette se deure vasgemaak was. Met die terugskiet wil sy ‘n knal los. Soos ‘n albaster wat uit ‘n kettie trek en op ‘n groot boud onder ‘n stywe skoolbroek land.

Kortom. Griet voel gemeen en sy vermoed dat haar hare oornag rooi kan word. Dit is moontlik dat sy môre oggend kan opstaan met sproete op haar gesig, en ‘n potlood middeldeur breek. Sy is lus vir donkiery in die Kalahari, nie nice wees en diplomatiese Lodewyk se skattige gade wees nie. Sy wil ook groooooooot asseblief nie sit en nonsens praat nie. Sy wil asseblief kan dink sonder dat iemand in haar ore neul.

Aag te dinges.

Griet gaan ‘n groot hoed koop, ‘n rugsak pak en gaan stap. Sonder ‘n selfoon. Sy belowe om te bel van ‘n gawe mens se huis af, as sy wil terugkom. Daar sal definitief erens iemand wees wat haar jammer kry en aanbied dat sy twee weke gratis kan bly. Miskien kan sy nog kameel ry in ‘n sirkus êrens.

Die Winkels

 

Griet is nou gatvol. Sy teken sjarmant apologie aan dat sy die geselskap so platvloers binneval, maar enige vrou wat ‘n baster -huisvrou/kantoorwerker is en oor naweke ‘n skoolgaande tweeling heelhartig ondersteun, voel by tye lus om te skree.

Vanoggend begin soos álle ander oggende. As Griet se oë oop is, moet sy winkels toe. Nevermind eers ‘n koppie koffie drink, haar gesig was of tandeborsel nie. Nevermind niks. ‘n Kar het sy, haar beursie is in haar handsak en ry sal sy ry. Dis wat haar kinders sê. Die einste kinders wat gistermiddag die ganse middag in beslag geneem het met klerasie-aanvulling. Eintlik kan Griet nie wag vir môre nie. Ousus het reeds laat weet sy sit en lysies maak, en sodra Ma haar kom haal, dan kan hulle lékker winkels toe gaan.

Lékker winkels toe gaan se hele lekker toon. Griet onthou dat sy en haar boetie al in haar jeugjare hierdie Jobstyding met ‘n passie gehaat het. “Sus, Charl…. kom hoor gou hier?” Dan kyk hulle vir mekaar en haar  broer sê: “Ouma en Ma wil stad toe gaan.” En wraggies waar, dan is dit so.

Daardie aand word hulle geskrop van kop tot tone. Mense steel nie vuil kinders nie. Waarom Griet se ma so graag wou hê hulle moes blink en skoon wees vir kinderdiewe, weet sy tot vandag toe glad nie. Dan is die wekker gestel. Om presies sesuur moes almal opstaan. Gertruida (Griet se Ma) het reeds die vorige aand die alleroulikste naamkaartjies gemaak met haar kinders se  name, adresse en telefoonnommer agterop. Dit is dan op twee plekke aan hulle klere vasgemaak: Agter in die nek, sodat iemand dadelik in die verlore kind se nek kon afloer (spesiaal vir Griet, want sy het nie met vreemdes gepraat nie, net gehuil, en dan kon hulle sommer aan haar nek sien sy is geticket), en een aan die binnekant van haar frokkie. ‘n Frokkie moes die kinders dra, want as hulle sou doodgaan in ‘n fratsongeluk moes die lyksmense nie dink hul ma het hulle half aangetrek dorp toe gevat nie. Dis nou so negentien-drie-en-sewentig, né.

Griet en Gertjie moes Pronutro eet vir baie krag, en vir die stappie bushalte toe. As Griet ‘n nood gekry het in die dorp, moes sy toiletpapier op die sitplek pak en hurk en haar ding doen, want kieme is verskriklike goed wat kan spring en jou aan jou…….. goeters byt. Die kraan by die wasbak moes sy dan met een hand toedraai, terwyl sy genoeg water in haar ander hand hou om die kieme dood te gooi wat aan die kraanhand vassit. So verkieslik het Griet haar ablusies by die huis klaargemaak.

Buite het ouma vir Getruida, Griet en Gertjie gewag, met ‘n tikkie pruimkleurige lipstiffie op haar mond, en ‘n baie prim en proper uitdrukking op haar gesig. Haar familie gaan dorp toe, en behoort te onthou hulle is behoorlike en opgevoede mense. Sy hoop ook Gertuida het die kinders voor die tyd dienooreenkomstig ingelig, aangesien hulle  die kleinkinders van baie voorbeeldige mense is, en dat enige iemand hulle ten enige tyd kan sien. Nou nog, as Griet winkel toe gaan, is dit die eerste vraag wat haar kinders ook vra: “Ma, lyk ek mooi? Gaan iemand my sien??” Dis vir Griet half logies dat mense mekaar sien by die winkel. Dis vir haar half onlogies dat dit saak maak hoe jy lyk, want selfs die barmhartige Samaritaan en Judas die Verraaier in die Bybelse tyd moes seker ook eet.

Busry is as vervoermiddel verkies omdat Ouma Anna Cornelia na al die jare verkies het om nie te bestuur nie, en Gertruida se migraine-hoofpyne haar eenvoudig nie toegelaat het om die middestad-verkeer te trotseer nie. In die bus mag Griet en Gertjie nooit op die eerste bankie gesit het nie. As die busbestuurder skielik moet stop, kon Griet of Gertjie  by die deur uitval en dan ry die bus dalk oor hulle as hy weer vinnig wegtrek. Hulle twee sit streng in ten minste die tweede of derde ry. Hulle mag ook nie aan die sitplek voor hulle vashou nie, mense met vuil hande wat in hulle neuse krap hou daar vas. Hulle is Christene en Christene is kieskeurig oor waaraan hulle vat. Hulle skop met hul voete vas vir balans, kyk na hul gevoude hande op hul skote sodat almal kan sien hulle is nederige en welopgevoede kinders, en staar nie na die mense nie. Onder geen omstandighede mag Griet en Gertjie met vreemde ooms en tannies praat nie. Ouma Anna Cornelia of Gertruida sal NAMENS hulle praat. Vreemde mense wil almal net aan kinders vat of vir hulle snaakse gif voer. Jy moet stilbly en die tyd uitkoop want die wêreld is boos.

En dan kom die groot KOOP. Gertruida stel nie belang in enige klerasie wat ‘n mens by gewone winkels soos Edgars, Woolworths, of enige van daardie plekke kan bekom nie. Nee. Sy het gespaar vir drie boutique-uitrustings vir kantoor, en middagete sal geniet word saam met Oupa by Greatermans. En so sleep Griet en Gertjie soos Snoopy en Charley Brown saam. Totdat hulle so dik is vir die besigheid dat hulle bene pyn en hulle nie meer kan loop nie. As hulle nie meer kan regop staan nie, kyk hul vas in Ouma Anna Cornelia se Groen Oë. As hulle onder die winkelpop se rok inloer om te sien of sy ook bloomers dra soos  die wat hulle altyd op die wasgoeddraad sien hang, slaat Gertruida hulle agterwêrelde aan die brand. En as hulle mooi moeg en gedaan is, word hulle restaurant toe geneem, en Ouma kondig plegtig aan dat hulle kan kies of hulle iets te drinke of te ete verkies. Slegs BEDERFDE kinders eet én drink by restaurante. Griet het vinnig uitgewerk dat vlatert lekker is, en dan drink sy haar  pens agterna trommeldik vol water in die spesifieke restaurant se ‘poeierhuis’. Hierdie ablusiegeriewe was goedgekeur in Ouma Anna Cornelia se boekies. Sy ys as sy nou agterna wonder wat IS alles daarbinne gepoeier. Toemaar.

Tuis gekom, het Griet en haar boetie absoluut saak gehad met nuwe aankope. Nee dankie, hulle was nie lus om dit aan te trek en vir Oupa te wys nie. En die uiterste, maar absolute uiterste straf was as Gertruida die poef-masjien uitgehaal het. Die gewraakte ding is die hoofrede agter die meeste redes hoekom Griet ooit pakgekry het. ‘n Poefmasjien is ‘n laakbare bedryfsel wat aan die een kant opgevul is met poeier, en terwylde die gemartelde kind al in die rondte draai, druk die perfeksionistiese ma ‘n kussinkie wat die poeier uitblaas deur ‘n staalgleufie, sodat die rok se soom gemerk kon word. Sodoende kon die soom reguit ingesit word. Dan moes die dogtertjie duisend keer in die rondte kom draai om te kyk of die soom nie punte hang nie. Griet en Gertruida se verhouding het daar regtig skade opgedoen.

Griet doen dinge baie eenvoudig met haar dogters. Sy koop die rokke die korrekte lengte. Of sy koop glad nie die rok nie. As die denims te lank is, rol die eienaar die denim op. As dit die eienaar irriteer, is sy meer as welkom om die broekspype korter te sny. Of vir Tannie Elize se ousie te vra om dit af te werk. Plonks, soos Nataniël sou sê. So blerrie maklik. Wat nie pas nie, word aanvaar as ‘n teken dat dit nie gekoop behoort te word nie. Hoe ‘n mens lyk is eenvoudig net nie so belangrik dat jy moet werk om mooi te lyk nie. Oor en uit.

Nou wil Griet graag vra: Wat se aantrekkingskrag is dit wat winkels met haar het? Want ten minste twee keer op ‘n dag word sy algemene kruidenierswinkel toe gestuur, vir iets wat iemand in die huis nodig het, twee keer ‘n week na die videowinkel, een keer vir die uitneem en eenkeer vir die terugneem, ten minste twee maal ‘n week het iemand die apteek nodig, aangesien daar vyf mense en sewe troeteldiere die woonperseel behuis, ten minste een maal per week het iemand êrens nuwe klerasie of bietjie purgasie nodig, en dan moet ander dinge nou ook in ag geneem word, soos hondekos, lemme vir die grassnyer, skoonmaakmiddels wat per grootmaat aangeskaf word, maar ook opraak, karolie, benodigdhede vir die tuinier, aanvulling van stukkende gloeilampe, besigheidsbenodigdhede, wat insluit enige iets van papier, drukkersink en lêers  tot die betaling van die posbus, ensovoorts…. En dit word afgerond met die daaglikse vervoer van Griet se tweeling en oudste na skool, en gaan haal by die skool. Griet het nog nie gekom by die buitemuurse uitstappies, noodritte na vriendinne vir hulp met skooltake, trippies na haar x-gade dat die spruite gou kan goeiemiddag sê, Ousus wat later afgelaai wil word, ‘n vriendin wat asseblief tuis besorg moet word weens omstandighede en die tandarts wat maandeliks besoek moet word nie.

Tussen al hierdie dinge is Griet gesellig, maak ontbyt, middagete en aandete, hanteer beneukte tieners, en antwoord altyd die kantoor telefoon vriendelik en behulpsaam. Dis hoekom sy ‘n teoloog geword het, en ook haar eie skooltjie het. Sy hou daarvan om beproef te word, die vrug van die gees te vertoon, en wil haarself graag planke toe werk sodat haar kinders eendag kan sê: “Ja, my Ma was ook alewig beneuk en moeg, en te besig om enige aandag aan ons te gee. Elke middag na skool was sy vies as sy twee of drie keer moes rondry, en sy het nooit tyd vir ons gehad nie. Ek wens sy het nie so hard probeer om ook die pot aan die kook te hou nie. Wat is belangriker, kwaliteit tyd of liefde?!”

Griet het lankal aan hulle probeer tuisbring dat die liefde vir kopies,vernaam inkopies, hierdie gejaagdheid, arbeidsaamheid, en vinnige lewe tot gevolg het.Dit val geheel en al op dowe ore. Dit maak nie saak dat hul ma met een kostuum deur haar hoërskoolloopbaan gegaan het nie, hulle moet elke jaar asseblief ten minste vier verskillendes hê vir verskillende gebruike. Al werk dit uit na agt altesaam. Dit maak nie saak dat hul ma se skoolskoene twee jaar en meer moes hou nie, hulle begin elke jaar met ‘n nuwe paar. Dis geestelik opbouend. Hulle dra nie laas jaar se skoolrokke nie, hulle is nie armoedig nie, en waarom moet jy minder as drie stukke informele drag in jou kas hê? Asseblief. Jy het plekke om te gaan en dinge om te doen. Die feit dat Griet se denims sewe jaar en ouer is, bewys haar algehele gebrek aan modebewustheid.

Ja. Griet het ‘n pyn met winkels. Sy wens die bleddie goed wil bordjies opsit en verklaar dat niemand onder agtien toegelaat word nie. En dat volwasse vroue dit slegs mag besoek uit vrye wil.

En jy dink JOU lewe suck??!

 

In ‘n vorige verhaaltjie het Griet vertel van haar oulike klein huishoudinkie, bestaande uit haar man Lodewyk de Lange die Derde, haar eenling oudste, haar tweeling, en die sewe hondjiejies en twee oulikste skatlikste ou katjies. En hierdie storietjie word sommer spesiaal opgedra aan haar tant Hessietjie, wat so lief is vir oulike storietjies.

Klein Fauna en Flora, Griet se tweeling, het nou besluit om twee bull terrier tefies aan te hou na die werpseltjie gebore is. Flora se hondjie het aanvanklik ‘n sagmoedige gees vertoon, maar was ook soms spottenderwys “Dora the Explorer” genoem. Sy het dikwels spoorloos verdwyn, en is dan op die vreemdste plekke gevind, soms in die snaakste posisies. Die finale strooi was toe klein Wolfie (a-la Dora) haar verbeel het sy is Superwoman, en probeer vlieg het van die bed af. Een twee drie, en haar agterbeen was gebreek.

Woorde het Griet ontbreek. Geld ook. Argumente was nou egter volop. Wie het die blessitse hond op die bed gesit?! Nee, daardie een was dood, weg of die hond het soos ‘n kat boom geklim. Jip. Wolfie kán klim, met gipsbeen en al, sou die familie agterkom later toe hulle Wolfie skelm dophou.

Wie was in die omgewing en het nie gekeer dat die hond van die bed afval nie?! Ousus BlackBessy. Sy vertel sy het die bed opgemaak, Wolfie het een kant afgeduik, Leilah, haar suster-hond, aan die ander kant, en sy wat Ousus BlackBessy is het amper getrip oor haar selfoon se oorfoondrade. Sy moes toe ‘n keuse maak. En toe kies SY om nie te val nie. Dis beter so Ousus. Griet was in haar hart heimlik bly oor die keuse want Ousus is effe geset en Griet het nie geld gehad vir nuwe vloerteëls vir ‘n ganse kamer nie.

Griet, Lodewyk se gade, het nou begin lei aan melankoliese depressie. So het sy vermoed.  Hy het snaakse simptome van pyn begin openbaar. Soms het hy net voor sy lessenaar gesit en kreun en sy kop in sy hande laat sak soos iemand wat vreeslik treur. Veral as sy pas van die veearts terugkom met die goeie nuus dat die rekening nou net eenduisend sewehonderd rand is, plate neem ingesluit. En dat die hond se been is gebreek is, maar dit kan aangroei.

‘n Week het verloop in die huishouding. Wolfie het dapper begin rondhardloop met haar verbinde been. Sy was die ‘runt’ van die werpsel, en is gebore met ‘n verbete lus om te lewe. Onafhanklikheid is haar leuse, en die lewe moet ontdek word. Daar is nie ‘n sekonde tyd om gemors te word nie. Sy steur haar nie aan haar oulike, skoorsoekende suster wat alte vermaaklik orals rondhop en aan als hap nie. Nee wat. Wolfie gaan eet malvas, keer klippe om, kyk of daar muise onder die yskas is, en kom sloeg so nou en dan by Griet se voete neer, geheel en al uitgeput na ‘n verkenningstog. Die geheim is dat Wolfie en Griet geheel en al verknog is aan mekaar, tot in hulle siele geknoop aan mekaar, maar hulle rep nie ‘n woord daaroor nie. Streng gesproke moet Wolfie waai, want Lodewyk het haar belowe as ‘n geskenk aan sy vriend. Wolfie en Griet dink sy plan stink. Dis net ‘n monster van ‘n man wat ‘n hond met ‘n af-been weggee as ‘n persent.

Na so vyf dae kom Griet agter dat Wolfie se voet nou erg sleep, en sy is vreeslik slaperig. En die middag terwyl die gesin vleis braai, nogal terwyl Griet se Professor in Teologie kom kuier, tel Lodewyk de Lange die Derde vir Wolfie op om die been te ondersoek. “Kyk en ruik heeltyd”, het die veearts vermaan. Lodewyk het die verband verseel met Duct tape aan die onderkant om seker te maak die voet word nie nat nie, en Wolfie is op inspeksieparade geplaas ten minste drie maal per dag. Maar o wee. Lodewyk het Griet een kyk gegee en haar maag het gedraai. Die vleis was net so gelos. Sagmoedige Lodewyk het geskree op almal, en hy en Griet het kamer toe gehol.

Wolfie word toe op die bed neergesit, en haar voet word oopgemaak. Gelukkig het Griet al ‘n mens sien doodgaan, anders het sy seker omgekap. Arme Wolfie se voetjie het vrot geword. Papvrot. En dit het versprei. Op tot bokant die knie, en seertjies tot aan die bobeen.

Griet het haar Kia in resiesmodule gesit en gejaag veearts toe. Op Kersfees. Die veearts was nie aan diens nie. Die ander veearts se noodnommer wou nie werk nie. Griet het gejaag plaas toe. ‘n Boer spuit toe vir Wolfie penissillien. Wolfie het agterna lekker gaan sit in ‘n bad Engelse soutwater, en klein Flora het kom stories voorlees en gesels. Sommer twintig minute lank. Vir ‘n bull terrier is Wolfie mal oor bad, veral as sy kan droë worsies kou, iemand haar rug lekker vryf en iemand anders onderhoudend met haar gesels. O en warm melk in ‘n bakkie in die bad is ook nie sleg nie. Dit kon koninklik word.

Griet het daardie nag amper niks geslaap nie. Lodewyk het hoofpyn en akute depressie gehad, en was botweg de moer in omdat hy hom laat ompraat het om nog diere aan te hou. Griet het soos ‘n psigopaat ‘n totale gebrek aan enige skuldige gewete ervaar. Sy was en is lief vir Wolfie, floreer op verpleegster speel (vir diere), en verstaan Wolfie se persoonlikheid. Dis haar lewe om klein hondjies groot te maak. Met die honderverkopery het sy alle voornemende eienaars met ‘n houtoog gestaan en uitkyk en seker gemaak niemand neem vir Wolfie nie. Want niemand het gelyk of hulle daardie hondjie sou verstaan nie. Tog so jammer sy het wiskunde gedop in standerd sewe, anders kon sy veearts word. Klein Fauna en Flora, die tweeling, het geween dat hulle oë so rooi was soos fonteinpaddas.

Griet was ferm. Sy het haar gaste geskakel, (die einste Professor en sy vrou wat ‘n nederige ongeveer seshonderd en vyftig kilometer van Pretoria afgelê het om te kom hallo sê), en hulle in kennis gestel dat aandete in sy maai sou wees. Om die waarheid te sê, sy het sommer voorgestel dat almal gaan uiteet, behalwe Lodewyk die Derde, wat ‘n manjifieke depressie gehad het  en absoluut geen eetlus nie. Sy en haar dogters het so armlastig gelyk dat die Professor en sy lieflike gade hulle ontferm het en die rekening betaal het. Voor klein Flora of groot BlackBessy weer kon huil. Om vadersnaam.

Die dag daarna het Griet om halfses opgestaan, en haar hele huis se vloere met ‘n mengsel van vloerseep en Dettol gewas. Wolfie kon nie bekostig om verdere infeksie op te doen nie. Sy het Wolfie na die veearts geneem wat nou op diens was, en hy het ‘n toontjie afgesit. Hy het genoeg antibiotika in Wolfie ingespuit dat sy dadelik SuperWoof geword het, die been verbind en Wolfie op ‘n mengsel van Valium en Red Bull Gives You Wings geplaas. Griet het die Professor en sy vroutjie voorlopig gegroet, hulle sou gou see toe vir drie dae. Sy het alle wasgoed en komberse gewas,haar huis gespring-clean, en als gestryk wat voorkom. Halfelf die aand het sy besef sy gaan nooit slaap nie, want as sy haar oë toegemaak het, het sy flashbacks gekry van skietongelukke. Toe maak sy die Professor se vrou se bottel wyn oop en drink sommer twee glase en vat Wolfie saam en gaan slaap in die spaarkamer.

Nou wag Griet. Ousus BlackBessy is weer versorgingshuis toe. Fauna is terug van tjommies af. Flora het bietjie gaan uitslaap. Lodewyk het vir Griet gaan klere koop om haar bietjie te bederf, want hy het gesien sy gaan binnekort by Frail Care opgeneem word as iemand nie haar Florence Nightingale streep bewonder nie. En more gaan Griet en Wolfie die dokter spreek. Wolfie mag dalk die been verloor. Maar Griet het hoop.

Vanoggend in die kerk toe skuif Griet se beste vriendin nader en fluister: “Daar was mense wat ‘n Doberman gehad het. Hulle het ‘n skyfie in sy nek ingeplant want hy het ook alewig alles gaan verken op hulle plaas. Eendag toe raak hy vir drie dae weg, en toe vind hulle hom deur middel van ‘n helikopter in die berge. Hy het net drie bene en hy het gaan bergklim. Toe hak sy een been tussen die klippe vas. Hy was bietjie ontwater, maar hy was fine. Die baas sê  daai hond is ‘n hond soos geen hond nog ooit was nie. O ja. Sy naam is Tripod.”

Na kerk, toe Lodewyk vir Griet winkel toe neem, kondig hy aan dat Wolfie se naam moet verander. (Lodewyk was nie naby die kerk nie, hy het nie daarna gevoel nie.) Lodewyk se vader se naam was Wolfgang en Vader het sy voet verloor. So die naam Wolfie moet wyk, En in CNA kry Griet toe ‘n ingewing. JODY SCHECKTER… Die hond gaan JODY gedoop word. Want niks, maar niks, breek haar spoed nie.

Lank lewe lewenslus!

Met betrekking tot liefde

Griet is ‘n sucker. Van kinderdae af. Sy het geen weerstand teen enige iets met sagte ogies, ‘n afhanklike gesiggie  en ‘n behoefte aan kos of liefde nie.

Eintlik is sy plein ongebalanseerd, en het waarskynlik sielkundige leiding nodig. As kind het Griet ‘n gril gehad in poppe. Eintlik nou nog. Dis die mees grillerige ding op aarde om in ‘n dooie plastiekgedoente se gesig vas te kyk, met ogies wat verby jou staar, en dan maak die ogies nog “klieks” as die pop se oë toegaan. En plastiekhare hoort in riller-flieks. Griet gril haar sommer hoendervleis. As jy onder die Frankenstein se rok inloer, werk haar bene met skarniere, en as jy haar in ‘n bad druk, loop daar water by haar arms en bene uit. Popspeel is in die besonder ‘n stokperdjie wat psigopate behoort te beoefen, sodat almal kan weet daar is êrens groot fout. Deesdae kan poppe praat ook. Magtag dis g’n wonder iemand het Chucky uitgedink nie.

Maar klein diertjies? Bring. Bring. En so eindig Griet weereens op met ‘n dieretuin op ‘n dorpserf.

Breggie, die maltees wat gekruis is met ‘n wire-haired terrier. Breggie is nie MOOI nie. Haar lyf is lank, haar hare dun en skraal en krul op snaakse plekkie. Maar Breggie het ‘n besonderse glimlag wat sy vir enige iemand wys, enige tyd. En sy is baie slim. Sy kan trieks ook doen, en is Griet se stiefseun se gunsteling, want sy spring deur hoepels.

Schatzi, die Schnautzer, is deur die Pa van die huis aangeskaf net na die Pa en die Ma se troue. Die ding is so swart, jy kan nie sy kop onderskei van sy lyf nie. Griet het nie erg aan die hond nie, snaaks genoeg. Dis die een hond met wie sy in haar lewe nooit ‘n band kon vorm nie, en wie se persoonlikheid eintlik glad nie vir haar ‘n persoonlikheid is nie.

Dan is daar Abby. Griet het haar op ‘n plaas raakgeloop. Sy is ‘n Labrador en so dik soos ‘n dubbeldekkerbus. Om die waarheid te sê, ingeval sy so dik word dat sy dalk haar heup uit lit ruk, lê sy veiligheidshalwe en eet die bak leeg. Griet weet dat alle verhale oor gidshonde eenvoudig leuns is, blote truuks om die mens te kry om die soort hond aan te hou en vreeslik duur vir hulle te betaal. Want as Abby ‘n kind was, was sy in die ekstra vreeslike spesiale klas. Haar lift gaan nie tot op die boonste verdieping nie. Kortom, sy is so dom soos grond. Die enigste tyd wanneer sy weet hoe om te sit, is as sy kospapiere hoor. Sy gaan sit buite en blaf vir die maan. Met die verskil, sy blaf wanneer die maan NIE skyn nie. So Griet en familie het haar eenvoudig net onvoorwaardelik lief.

Na ‘n kuiertjie in die bose Johannesburg, kom Griet huis toe en kry ‘n aantal onaangename verassings in ‘n ry. Sy sal volstaan met die feit dat daar toe weereens by die bure ingebreek is, en sy toe net daar besluit om haar beste vriend van kinderdae terug te roep. Jock was ‘n bull-terrier reun. Swart en wit, met ‘n spesiale wit vlek oor sy oog, wat Griet se ma die horries gegee het. Want elke keer as Jock nie wou luister nie en Ma Gertruide aan’t gille gegaan het, het hy so skuins teen sy neus af vir haar gekyk en sy wit oog het pienk geword soos hy haar begluur het. Jock en Griet was innige vriende. Griet het haar ma ook gereeld aan die skree gehad, so sy en Jock het hulle maar buite besig gehou. En ‘n dik, dik vriendskap ontwikkel.

Die enigste ding was, ‘n Jock of Jacqueline moes per internet bekom word. En net daar raak Griet smoorverlief op ‘n foto. Sy ry wéér al die pad Pretoria toe, en gaan haal Jacqueline, alias Tayla.

Tayla word twee jaar oud, en moet asseblief een keer kleintjies kry. Sodat Griet en gesin een van haar kindertjies kan hê as sy doodgaan. Bullies word nie baie oud nie. Die familie sal ‘n reuntjie hou, en voor dit tyd is vir hom om uit te klok, sal hulle sorg dat daar weer ‘n jong nasaat is. Want Tayla is kosbaar.

383

Gmff. Sy het eenkeer kleintjies gekry, en toe Griet een goeie dag nie te mooi oplet nie, toe is sy weer swanger. En Griet se tweeling skree moord, roof en brand, elkeen wil ‘n babetjie hou. Raasbek hou toe ‘n raasbek baba, en Sagte Sussie hou ‘n sagte baba. En sagte baba val van die bed af en maak haar beentjie seer. Sy benodig nou pynpilletjies, sagte kossies, baie ekstra liefde en sorg. Waarmee Griet natuurlik uitstekend is, en met plesier uitstort op besige klein Wolfie.

En so toer Griet nou. Tussen haar drie kinders, 8 honde, 2 katte, manlief, die kantoor aan huis, die maatjies wat oorkom in skoolvakansie, en haar beroep, teologiese navorsing. Mense wat Griet ken, merk op dat sy anders lyk deesdae. Sommige noem dat sy “jonger” voorkom. Dis omdat sy haar hare stomp af laat sny het, want haardroërs op bedkassies kan op klein hondjies val en verdere veearts-rekeninge veroorsaak. Griet het ook gewig verloor. Behalwe vir ronddraf agter almal aan, buk sy heelwat. Om drolletjies op te tel en piepie op te vee, as die leser dan nou móét weet. Sy eet ook minder, want daar is eenvoudig nie tyd daarvoor nie. En dit is ook half onaangenaam as sestien ogies die pad van jou bord na jou mond met intense belangstelling dophou.

Hierdie alles in die naam van liefde.

Griet leer nooit.

O Gaats, Griet!

Dis die eerste week van die vakansie. Almal wil mooimaak. Wie op hierdie aarde, veral in ‘n sprokiesdorpie soos Freedom Town, kan ses weke lank asvaal en sonder glitter deur die jaareind-vakansie ploeg?

Dubbel die mooimaak, as jy ‘n tweeling het. En trippel dit, as jy drie dogters het. Griet sien met bekommernis dat haar salaris nie vertrippel het nie. Sy het ‘n paar baba-bullterriers verkoop. Maar dit is ook so dat die jaar se klere-rekeninge hul toppunt bereik het. Dis glad nie moeilik om ‘n kaartjie leeg te koop as jy drie tieners het nie. Drie weke voor die skool eindig het twee pare skoolskoene gebreek. Dan was daar natuurlik die tallose jaareind-funksies, prefekte-funksies, klaspartytjies, afskeid van maats wat gaan trek, afskeid van onderwysers wat weggaan, te veel om te noem. En elkeen het óf ‘n bordjie koek of ‘n presentjie of ‘n afskeidsuitrusting vir ‘n okkasie nodig. Weet die onderwysdepartement Griet en haar vriendinne se dogters loop gevaar om al dik te word vóór Krismis??

Griet self voer lewenslank al oorlog teen oorgewig. Haar spruite het nog nie die verstand en die lydensvermoë om maande se dieet en kilometers se gehardloop deur te maak nie, laat staan nog die motivering. Griet is van geboorte af ‘n “fighter”, soos haar eerste liefde gesê het. Menende iemand wat doel stel en êrens heen mik. Haar dogters is kunstenaars en neig ietwat na hippies, en almal weet hippies eet groen koekies en lag oor die wêreld se probleme. En veral hul eie.

“Mamma,” kom vra Griet se jongste. Haar blou oë knip-knip en sy glimlag soos ‘n engel oor die geboorte van ‘n besondere soet kind. “Kan ons my naels laat mooimaak vir die vakansie? ASSEBLIEF.” En soos dit nou maar is, stop Tannie Sherryl en Oom Christo uitermate, totaal en al heeltemal per ongeluk, toevallig op daardie oomblik voor die deur. Hulle kom gou ‘n koffietjie drink by Griet, en Tannie Sherryl verneem of Griet haar dalk môre na die haarkappersalon sal neem, want Oom Christo het die motor nodig. Griet stem in en Klein Fauna se glimlag skitter. Griet is baie bekommerd oor die skitterende glimlag, maar kuier beskaafd klaar.

Die gaste is net mooi afgesien, toe Klein Griet sommer op die tuinmuurtjie kom sit, Groot Griet aan die skouers neem, diep in haar oë kyk en sê: “Het jy gesién hoe mooi lyk tannie Sherryl se naels?” Griet word sommer yskoud. Ja. Sy het gesien.

Daar klim ‘n duiweltjie agter Fauna se oor uit en kom sit in haar linkeroog. “Sál sy my naels doen as ek haar mooi vra? Sy doen dan naels vir troues. Come on mammy. Jy het self so gesê. Sy is Jesus se kind, onthou.” Dit lyk vir Griet asof dit baie gevaarlik kan wees om Jesus se kind te wees, veral as jou tweelingsussie, Flora, ook mooi naels vreeslik ter harte neem. Sy noem dat die jong dame dan maar self met die tannie moet onderhandel, aangesien die tannie vir Griet neem vir ‘n melkskommel na die haarsny.

Die volgende môre is Fauna slaggereed. Haar tande is met Aquafresh se Superblink geborsel, en sy gaan ook sommer hare sny, wat. Alles wat tannie Sherryl doen, doen sy saam, want die tannie lyk soos Jennifer Lopez. En haar ma…. wel haar ma lyk soos Ou Griet. Verstaan?

Terwyl Ou Griet en Jennifer gesellig sit en gesels oor ‘n koppie haarsalon-koffie, en verneem wat is die nuutste metodes om ietsie vleiends met mens se hare te doen (vir die ouer gesig, natuurlik), sit Fauna gou ‘n pienk haarstukkie in. Net so vinnig terwyl Ou Griet nie kyk nie, sodat sy agterna ‘n epileptiese aanval kan kry buite die salon. Sy neem self die geldjie uit die beursie, betaal baie selfstandig en sê selfs dankie, asseblief en tot siens en waai vir almal. Toe Ou Griet verneem hoekom die bedrag dan nou aansienlik meer is as gewoonlik, swaai sy haar kop soos My Little Pony, en Griet kap amper om. En dis seker wat toe aanleiding gee na die ongeluk in die Spur en….Die Nuwe Suid-Afrika Ongeluk Wat Nooit Moes Gebeur Het Nie.

Effens duiselig van die helder neonpienk, en ook effe gedisorienteerd, stap Griet voor. Goed met rigting, was sy nog nooit. Sommige dae verdwaal sy tussen haar eie kombuis en garage, veral as sy ingedagte is. Agter haar stap Fauna. Met ‘n grinnik wat strek reg rondom haar kop. Sy lyk soos ‘n pienk prinses, en haar voorkoms sê “My stepmother is an alien” en dat Griet dié stepmother-alien is. En agter almal kom Tannie Sherryl-Jennifer Lopez aan.

Griet stap vinnig. Trouens, alles wat sy doen, doen sy vervlaks vinnig. Sy het net ‘n eerste en ‘n vyfde rat.  En die kelnertjie, ‘n klein Baby Jake Matlala, draf met drie pragtige goue voortande en ‘n spyskaart nader en probeer plek aanwys. Ongelukkig merk Griet nie op dat hy ‘n ‘trainee’ is en nog regtig onseker van homself nie. Sy het ontsaglik simpatie met sulke omstandighede. En dis hoekom sy omvlieg so in haar loop om vir Sherryl-Jennifer te sê dat ‘n sekere tafel baie gemaklik lyk om by te sit, en dat sy daar gaan plaasneem. En toe neem sy met verbasing waar dat Baby Jake verdwyn het.

Sherryl Lopez glimlag ‘n verstommende glimlag. Die ganse Spur verkyk hulle. Fauna kruip êrens weg, en Griet sien dat die personeel tot stilstand gekom het. Selfs die gaste se koppies en vurke hang in die lug en mense kyk haar verstom aan. Toe sien sy wat het agter haar gebeur.

Met die vinnige omswaai om met Sherryl Lopez te praat, het haar handsakvir Baby Jake getref. Die ding is, die handsak was op haar heup, aangedryf was deur die swaartekrag van haar boude. Wat tot gevolg het dat Baby Jake plat op ‘n Spur bankie geland het, en verstom daar sit. Soos verstom soos Esegiël langs die Kebarrivier.

Griet wonder of sy hom moet klap. Hy lyk regtig of hy katatonies geskrik is. Sy gaan staan voor hom en skud haar kop. Hy skud sy kop ook. Toe glimlag sy. Hy glimlag ook. Sy lag. Hy lag ook. Alles wat Griet doen, doen Baby Jake. Hy het konkussie opgedoen. Hy is nie meer homself nie, hy is in sy maai.

Griet skraap haarself bymekaar. Sy help mnr Matlala op aan sy hand, en stel nederig voor dat hy voor loop en die die plek aanwys. Sy gluur Faunie met die ponieperdjie hare aan, en belowe om elke neonpers draadjie op elke tand self af te haal as sy nou iets sê. Sy kyk Jennifer Lopez heeltemal mis. Sy merk net op dat Mev Lopez haar sonbrille opgesit het en ‘n sneesdoekie onder haar neus hou. Sy het seker skielik verkoue gekry van die skok.

By die tafel gekom, bestel almal hul melkskommels. Fauna onderhandel ‘n prys vir haar naels. Wat insluit dat sy vir ‘n week lank haar ma moet help in die huis, anders skuif die naels se prys met vyftig rand op. En Griet dink aan die liedjie van “I had a dream” en sy weet as sy ooit ‘n droom gehad het om ‘n dame te wees, kan sy daai droom nou maar heeltemal koebaai soen.