Met betrekking tot liefde

Griet is ‘n sucker. Van kinderdae af. Sy het geen weerstand teen enige iets met sagte ogies, ‘n afhanklike gesiggie  en ‘n behoefte aan kos of liefde nie.

Eintlik is sy plein ongebalanseerd, en het waarskynlik sielkundige leiding nodig. As kind het Griet ‘n gril gehad in poppe. Eintlik nou nog. Dis die mees grillerige ding op aarde om in ‘n dooie plastiekgedoente se gesig vas te kyk, met ogies wat verby jou staar, en dan maak die ogies nog “klieks” as die pop se oë toegaan. En plastiekhare hoort in riller-flieks. Griet gril haar sommer hoendervleis. As jy onder die Frankenstein se rok inloer, werk haar bene met skarniere, en as jy haar in ‘n bad druk, loop daar water by haar arms en bene uit. Popspeel is in die besonder ‘n stokperdjie wat psigopate behoort te beoefen, sodat almal kan weet daar is êrens groot fout. Deesdae kan poppe praat ook. Magtag dis g’n wonder iemand het Chucky uitgedink nie.

Maar klein diertjies? Bring. Bring. En so eindig Griet weereens op met ‘n dieretuin op ‘n dorpserf.

Breggie, die maltees wat gekruis is met ‘n wire-haired terrier. Breggie is nie MOOI nie. Haar lyf is lank, haar hare dun en skraal en krul op snaakse plekkie. Maar Breggie het ‘n besonderse glimlag wat sy vir enige iemand wys, enige tyd. En sy is baie slim. Sy kan trieks ook doen, en is Griet se stiefseun se gunsteling, want sy spring deur hoepels.

Schatzi, die Schnautzer, is deur die Pa van die huis aangeskaf net na die Pa en die Ma se troue. Die ding is so swart, jy kan nie sy kop onderskei van sy lyf nie. Griet het nie erg aan die hond nie, snaaks genoeg. Dis die een hond met wie sy in haar lewe nooit ‘n band kon vorm nie, en wie se persoonlikheid eintlik glad nie vir haar ‘n persoonlikheid is nie.

Dan is daar Abby. Griet het haar op ‘n plaas raakgeloop. Sy is ‘n Labrador en so dik soos ‘n dubbeldekkerbus. Om die waarheid te sê, ingeval sy so dik word dat sy dalk haar heup uit lit ruk, lê sy veiligheidshalwe en eet die bak leeg. Griet weet dat alle verhale oor gidshonde eenvoudig leuns is, blote truuks om die mens te kry om die soort hond aan te hou en vreeslik duur vir hulle te betaal. Want as Abby ‘n kind was, was sy in die ekstra vreeslike spesiale klas. Haar lift gaan nie tot op die boonste verdieping nie. Kortom, sy is so dom soos grond. Die enigste tyd wanneer sy weet hoe om te sit, is as sy kospapiere hoor. Sy gaan sit buite en blaf vir die maan. Met die verskil, sy blaf wanneer die maan NIE skyn nie. So Griet en familie het haar eenvoudig net onvoorwaardelik lief.

Na ‘n kuiertjie in die bose Johannesburg, kom Griet huis toe en kry ‘n aantal onaangename verassings in ‘n ry. Sy sal volstaan met die feit dat daar toe weereens by die bure ingebreek is, en sy toe net daar besluit om haar beste vriend van kinderdae terug te roep. Jock was ‘n bull-terrier reun. Swart en wit, met ‘n spesiale wit vlek oor sy oog, wat Griet se ma die horries gegee het. Want elke keer as Jock nie wou luister nie en Ma Gertruide aan’t gille gegaan het, het hy so skuins teen sy neus af vir haar gekyk en sy wit oog het pienk geword soos hy haar begluur het. Jock en Griet was innige vriende. Griet het haar ma ook gereeld aan die skree gehad, so sy en Jock het hulle maar buite besig gehou. En ‘n dik, dik vriendskap ontwikkel.

Die enigste ding was, ‘n Jock of Jacqueline moes per internet bekom word. En net daar raak Griet smoorverlief op ‘n foto. Sy ry wéér al die pad Pretoria toe, en gaan haal Jacqueline, alias Tayla.

Tayla word twee jaar oud, en moet asseblief een keer kleintjies kry. Sodat Griet en gesin een van haar kindertjies kan hê as sy doodgaan. Bullies word nie baie oud nie. Die familie sal ‘n reuntjie hou, en voor dit tyd is vir hom om uit te klok, sal hulle sorg dat daar weer ‘n jong nasaat is. Want Tayla is kosbaar.

383

Gmff. Sy het eenkeer kleintjies gekry, en toe Griet een goeie dag nie te mooi oplet nie, toe is sy weer swanger. En Griet se tweeling skree moord, roof en brand, elkeen wil ‘n babetjie hou. Raasbek hou toe ‘n raasbek baba, en Sagte Sussie hou ‘n sagte baba. En sagte baba val van die bed af en maak haar beentjie seer. Sy benodig nou pynpilletjies, sagte kossies, baie ekstra liefde en sorg. Waarmee Griet natuurlik uitstekend is, en met plesier uitstort op besige klein Wolfie.

En so toer Griet nou. Tussen haar drie kinders, 8 honde, 2 katte, manlief, die kantoor aan huis, die maatjies wat oorkom in skoolvakansie, en haar beroep, teologiese navorsing. Mense wat Griet ken, merk op dat sy anders lyk deesdae. Sommige noem dat sy “jonger” voorkom. Dis omdat sy haar hare stomp af laat sny het, want haardroërs op bedkassies kan op klein hondjies val en verdere veearts-rekeninge veroorsaak. Griet het ook gewig verloor. Behalwe vir ronddraf agter almal aan, buk sy heelwat. Om drolletjies op te tel en piepie op te vee, as die leser dan nou móét weet. Sy eet ook minder, want daar is eenvoudig nie tyd daarvoor nie. En dit is ook half onaangenaam as sestien ogies die pad van jou bord na jou mond met intense belangstelling dophou.

Hierdie alles in die naam van liefde.

Griet leer nooit.

Advertisements

3 thoughts on “Met betrekking tot liefde

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s