En jy dink JOU lewe suck??!

 

In ‘n vorige verhaaltjie het Griet vertel van haar oulike klein huishoudinkie, bestaande uit haar man Lodewyk de Lange die Derde, haar eenling oudste, haar tweeling, en die sewe hondjiejies en twee oulikste skatlikste ou katjies. En hierdie storietjie word sommer spesiaal opgedra aan haar tant Hessietjie, wat so lief is vir oulike storietjies.

Klein Fauna en Flora, Griet se tweeling, het nou besluit om twee bull terrier tefies aan te hou na die werpseltjie gebore is. Flora se hondjie het aanvanklik ‘n sagmoedige gees vertoon, maar was ook soms spottenderwys “Dora the Explorer” genoem. Sy het dikwels spoorloos verdwyn, en is dan op die vreemdste plekke gevind, soms in die snaakste posisies. Die finale strooi was toe klein Wolfie (a-la Dora) haar verbeel het sy is Superwoman, en probeer vlieg het van die bed af. Een twee drie, en haar agterbeen was gebreek.

Woorde het Griet ontbreek. Geld ook. Argumente was nou egter volop. Wie het die blessitse hond op die bed gesit?! Nee, daardie een was dood, weg of die hond het soos ‘n kat boom geklim. Jip. Wolfie kán klim, met gipsbeen en al, sou die familie agterkom later toe hulle Wolfie skelm dophou.

Wie was in die omgewing en het nie gekeer dat die hond van die bed afval nie?! Ousus BlackBessy. Sy vertel sy het die bed opgemaak, Wolfie het een kant afgeduik, Leilah, haar suster-hond, aan die ander kant, en sy wat Ousus BlackBessy is het amper getrip oor haar selfoon se oorfoondrade. Sy moes toe ‘n keuse maak. En toe kies SY om nie te val nie. Dis beter so Ousus. Griet was in haar hart heimlik bly oor die keuse want Ousus is effe geset en Griet het nie geld gehad vir nuwe vloerteëls vir ‘n ganse kamer nie.

Griet, Lodewyk se gade, het nou begin lei aan melankoliese depressie. So het sy vermoed.  Hy het snaakse simptome van pyn begin openbaar. Soms het hy net voor sy lessenaar gesit en kreun en sy kop in sy hande laat sak soos iemand wat vreeslik treur. Veral as sy pas van die veearts terugkom met die goeie nuus dat die rekening nou net eenduisend sewehonderd rand is, plate neem ingesluit. En dat die hond se been is gebreek is, maar dit kan aangroei.

‘n Week het verloop in die huishouding. Wolfie het dapper begin rondhardloop met haar verbinde been. Sy was die ‘runt’ van die werpsel, en is gebore met ‘n verbete lus om te lewe. Onafhanklikheid is haar leuse, en die lewe moet ontdek word. Daar is nie ‘n sekonde tyd om gemors te word nie. Sy steur haar nie aan haar oulike, skoorsoekende suster wat alte vermaaklik orals rondhop en aan als hap nie. Nee wat. Wolfie gaan eet malvas, keer klippe om, kyk of daar muise onder die yskas is, en kom sloeg so nou en dan by Griet se voete neer, geheel en al uitgeput na ‘n verkenningstog. Die geheim is dat Wolfie en Griet geheel en al verknog is aan mekaar, tot in hulle siele geknoop aan mekaar, maar hulle rep nie ‘n woord daaroor nie. Streng gesproke moet Wolfie waai, want Lodewyk het haar belowe as ‘n geskenk aan sy vriend. Wolfie en Griet dink sy plan stink. Dis net ‘n monster van ‘n man wat ‘n hond met ‘n af-been weggee as ‘n persent.

Na so vyf dae kom Griet agter dat Wolfie se voet nou erg sleep, en sy is vreeslik slaperig. En die middag terwyl die gesin vleis braai, nogal terwyl Griet se Professor in Teologie kom kuier, tel Lodewyk de Lange die Derde vir Wolfie op om die been te ondersoek. “Kyk en ruik heeltyd”, het die veearts vermaan. Lodewyk het die verband verseel met Duct tape aan die onderkant om seker te maak die voet word nie nat nie, en Wolfie is op inspeksieparade geplaas ten minste drie maal per dag. Maar o wee. Lodewyk het Griet een kyk gegee en haar maag het gedraai. Die vleis was net so gelos. Sagmoedige Lodewyk het geskree op almal, en hy en Griet het kamer toe gehol.

Wolfie word toe op die bed neergesit, en haar voet word oopgemaak. Gelukkig het Griet al ‘n mens sien doodgaan, anders het sy seker omgekap. Arme Wolfie se voetjie het vrot geword. Papvrot. En dit het versprei. Op tot bokant die knie, en seertjies tot aan die bobeen.

Griet het haar Kia in resiesmodule gesit en gejaag veearts toe. Op Kersfees. Die veearts was nie aan diens nie. Die ander veearts se noodnommer wou nie werk nie. Griet het gejaag plaas toe. ‘n Boer spuit toe vir Wolfie penissillien. Wolfie het agterna lekker gaan sit in ‘n bad Engelse soutwater, en klein Flora het kom stories voorlees en gesels. Sommer twintig minute lank. Vir ‘n bull terrier is Wolfie mal oor bad, veral as sy kan droë worsies kou, iemand haar rug lekker vryf en iemand anders onderhoudend met haar gesels. O en warm melk in ‘n bakkie in die bad is ook nie sleg nie. Dit kon koninklik word.

Griet het daardie nag amper niks geslaap nie. Lodewyk het hoofpyn en akute depressie gehad, en was botweg de moer in omdat hy hom laat ompraat het om nog diere aan te hou. Griet het soos ‘n psigopaat ‘n totale gebrek aan enige skuldige gewete ervaar. Sy was en is lief vir Wolfie, floreer op verpleegster speel (vir diere), en verstaan Wolfie se persoonlikheid. Dis haar lewe om klein hondjies groot te maak. Met die honderverkopery het sy alle voornemende eienaars met ‘n houtoog gestaan en uitkyk en seker gemaak niemand neem vir Wolfie nie. Want niemand het gelyk of hulle daardie hondjie sou verstaan nie. Tog so jammer sy het wiskunde gedop in standerd sewe, anders kon sy veearts word. Klein Fauna en Flora, die tweeling, het geween dat hulle oë so rooi was soos fonteinpaddas.

Griet was ferm. Sy het haar gaste geskakel, (die einste Professor en sy vrou wat ‘n nederige ongeveer seshonderd en vyftig kilometer van Pretoria afgelê het om te kom hallo sê), en hulle in kennis gestel dat aandete in sy maai sou wees. Om die waarheid te sê, sy het sommer voorgestel dat almal gaan uiteet, behalwe Lodewyk die Derde, wat ‘n manjifieke depressie gehad het  en absoluut geen eetlus nie. Sy en haar dogters het so armlastig gelyk dat die Professor en sy lieflike gade hulle ontferm het en die rekening betaal het. Voor klein Flora of groot BlackBessy weer kon huil. Om vadersnaam.

Die dag daarna het Griet om halfses opgestaan, en haar hele huis se vloere met ‘n mengsel van vloerseep en Dettol gewas. Wolfie kon nie bekostig om verdere infeksie op te doen nie. Sy het Wolfie na die veearts geneem wat nou op diens was, en hy het ‘n toontjie afgesit. Hy het genoeg antibiotika in Wolfie ingespuit dat sy dadelik SuperWoof geword het, die been verbind en Wolfie op ‘n mengsel van Valium en Red Bull Gives You Wings geplaas. Griet het die Professor en sy vroutjie voorlopig gegroet, hulle sou gou see toe vir drie dae. Sy het alle wasgoed en komberse gewas,haar huis gespring-clean, en als gestryk wat voorkom. Halfelf die aand het sy besef sy gaan nooit slaap nie, want as sy haar oë toegemaak het, het sy flashbacks gekry van skietongelukke. Toe maak sy die Professor se vrou se bottel wyn oop en drink sommer twee glase en vat Wolfie saam en gaan slaap in die spaarkamer.

Nou wag Griet. Ousus BlackBessy is weer versorgingshuis toe. Fauna is terug van tjommies af. Flora het bietjie gaan uitslaap. Lodewyk het vir Griet gaan klere koop om haar bietjie te bederf, want hy het gesien sy gaan binnekort by Frail Care opgeneem word as iemand nie haar Florence Nightingale streep bewonder nie. En more gaan Griet en Wolfie die dokter spreek. Wolfie mag dalk die been verloor. Maar Griet het hoop.

Vanoggend in die kerk toe skuif Griet se beste vriendin nader en fluister: “Daar was mense wat ‘n Doberman gehad het. Hulle het ‘n skyfie in sy nek ingeplant want hy het ook alewig alles gaan verken op hulle plaas. Eendag toe raak hy vir drie dae weg, en toe vind hulle hom deur middel van ‘n helikopter in die berge. Hy het net drie bene en hy het gaan bergklim. Toe hak sy een been tussen die klippe vas. Hy was bietjie ontwater, maar hy was fine. Die baas sê  daai hond is ‘n hond soos geen hond nog ooit was nie. O ja. Sy naam is Tripod.”

Na kerk, toe Lodewyk vir Griet winkel toe neem, kondig hy aan dat Wolfie se naam moet verander. (Lodewyk was nie naby die kerk nie, hy het nie daarna gevoel nie.) Lodewyk se vader se naam was Wolfgang en Vader het sy voet verloor. So die naam Wolfie moet wyk, En in CNA kry Griet toe ‘n ingewing. JODY SCHECKTER… Die hond gaan JODY gedoop word. Want niks, maar niks, breek haar spoed nie.

Lank lewe lewenslus!

Advertisements

6 thoughts on “En jy dink JOU lewe suck??!

  1. Sesi vergeet van pastoor wees. Print di stories en stuur dit vir di Huisgenoot. Hulle sal jou betaal om elke week n storie van jou te plaas. Die mense gaan die boek koop net vir jou blog stories. Dis histeries snaaks. Jy gaan geld mk se ek jou al is dit nou net om dr Mosterd se rek te betaal. Uitstekende skryfwerk se ek jou. Uitstekend.
    Sent from my BlackBerry® wireless device

    Like

    1. Baie baie dankie my sesi. Ek het nogal n stywe rekening by daai man. Wag tot jy my volgende storie sien. Jy gasn kruip soos jy lag. Ek het toestemming. Ek se niks meer nie. Dis n verassing.

      Like

  2. Haha, Sideways Scheckter – hy het altyd so dwars in die straight afgekom. As Tripod Wolfie nou regtig net 3 bene gaan oorhê, mag sy dalk ook so krapsgewys om die draaie kom om haar ewewig te behou. Niggie, met jou sin vir humor gaan jy ‘n legende word.

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s