Die Winkels

 

Griet is nou gatvol. Sy teken sjarmant apologie aan dat sy die geselskap so platvloers binneval, maar enige vrou wat ‘n baster -huisvrou/kantoorwerker is en oor naweke ‘n skoolgaande tweeling heelhartig ondersteun, voel by tye lus om te skree.

Vanoggend begin soos álle ander oggende. As Griet se oë oop is, moet sy winkels toe. Nevermind eers ‘n koppie koffie drink, haar gesig was of tandeborsel nie. Nevermind niks. ‘n Kar het sy, haar beursie is in haar handsak en ry sal sy ry. Dis wat haar kinders sê. Die einste kinders wat gistermiddag die ganse middag in beslag geneem het met klerasie-aanvulling. Eintlik kan Griet nie wag vir môre nie. Ousus het reeds laat weet sy sit en lysies maak, en sodra Ma haar kom haal, dan kan hulle lékker winkels toe gaan.

Lékker winkels toe gaan se hele lekker toon. Griet onthou dat sy en haar boetie al in haar jeugjare hierdie Jobstyding met ‘n passie gehaat het. “Sus, Charl…. kom hoor gou hier?” Dan kyk hulle vir mekaar en haar  broer sê: “Ouma en Ma wil stad toe gaan.” En wraggies waar, dan is dit so.

Daardie aand word hulle geskrop van kop tot tone. Mense steel nie vuil kinders nie. Waarom Griet se ma so graag wou hê hulle moes blink en skoon wees vir kinderdiewe, weet sy tot vandag toe glad nie. Dan is die wekker gestel. Om presies sesuur moes almal opstaan. Gertruida (Griet se Ma) het reeds die vorige aand die alleroulikste naamkaartjies gemaak met haar kinders se  name, adresse en telefoonnommer agterop. Dit is dan op twee plekke aan hulle klere vasgemaak: Agter in die nek, sodat iemand dadelik in die verlore kind se nek kon afloer (spesiaal vir Griet, want sy het nie met vreemdes gepraat nie, net gehuil, en dan kon hulle sommer aan haar nek sien sy is geticket), en een aan die binnekant van haar frokkie. ‘n Frokkie moes die kinders dra, want as hulle sou doodgaan in ‘n fratsongeluk moes die lyksmense nie dink hul ma het hulle half aangetrek dorp toe gevat nie. Dis nou so negentien-drie-en-sewentig, né.

Griet en Gertjie moes Pronutro eet vir baie krag, en vir die stappie bushalte toe. As Griet ‘n nood gekry het in die dorp, moes sy toiletpapier op die sitplek pak en hurk en haar ding doen, want kieme is verskriklike goed wat kan spring en jou aan jou…….. goeters byt. Die kraan by die wasbak moes sy dan met een hand toedraai, terwyl sy genoeg water in haar ander hand hou om die kieme dood te gooi wat aan die kraanhand vassit. So verkieslik het Griet haar ablusies by die huis klaargemaak.

Buite het ouma vir Getruida, Griet en Gertjie gewag, met ‘n tikkie pruimkleurige lipstiffie op haar mond, en ‘n baie prim en proper uitdrukking op haar gesig. Haar familie gaan dorp toe, en behoort te onthou hulle is behoorlike en opgevoede mense. Sy hoop ook Gertuida het die kinders voor die tyd dienooreenkomstig ingelig, aangesien hulle  die kleinkinders van baie voorbeeldige mense is, en dat enige iemand hulle ten enige tyd kan sien. Nou nog, as Griet winkel toe gaan, is dit die eerste vraag wat haar kinders ook vra: “Ma, lyk ek mooi? Gaan iemand my sien??” Dis vir Griet half logies dat mense mekaar sien by die winkel. Dis vir haar half onlogies dat dit saak maak hoe jy lyk, want selfs die barmhartige Samaritaan en Judas die Verraaier in die Bybelse tyd moes seker ook eet.

Busry is as vervoermiddel verkies omdat Ouma Anna Cornelia na al die jare verkies het om nie te bestuur nie, en Gertruida se migraine-hoofpyne haar eenvoudig nie toegelaat het om die middestad-verkeer te trotseer nie. In die bus mag Griet en Gertjie nooit op die eerste bankie gesit het nie. As die busbestuurder skielik moet stop, kon Griet of Gertjie  by die deur uitval en dan ry die bus dalk oor hulle as hy weer vinnig wegtrek. Hulle twee sit streng in ten minste die tweede of derde ry. Hulle mag ook nie aan die sitplek voor hulle vashou nie, mense met vuil hande wat in hulle neuse krap hou daar vas. Hulle is Christene en Christene is kieskeurig oor waaraan hulle vat. Hulle skop met hul voete vas vir balans, kyk na hul gevoude hande op hul skote sodat almal kan sien hulle is nederige en welopgevoede kinders, en staar nie na die mense nie. Onder geen omstandighede mag Griet en Gertjie met vreemde ooms en tannies praat nie. Ouma Anna Cornelia of Gertruida sal NAMENS hulle praat. Vreemde mense wil almal net aan kinders vat of vir hulle snaakse gif voer. Jy moet stilbly en die tyd uitkoop want die wêreld is boos.

En dan kom die groot KOOP. Gertruida stel nie belang in enige klerasie wat ‘n mens by gewone winkels soos Edgars, Woolworths, of enige van daardie plekke kan bekom nie. Nee. Sy het gespaar vir drie boutique-uitrustings vir kantoor, en middagete sal geniet word saam met Oupa by Greatermans. En so sleep Griet en Gertjie soos Snoopy en Charley Brown saam. Totdat hulle so dik is vir die besigheid dat hulle bene pyn en hulle nie meer kan loop nie. As hulle nie meer kan regop staan nie, kyk hul vas in Ouma Anna Cornelia se Groen Oë. As hulle onder die winkelpop se rok inloer om te sien of sy ook bloomers dra soos  die wat hulle altyd op die wasgoeddraad sien hang, slaat Gertruida hulle agterwêrelde aan die brand. En as hulle mooi moeg en gedaan is, word hulle restaurant toe geneem, en Ouma kondig plegtig aan dat hulle kan kies of hulle iets te drinke of te ete verkies. Slegs BEDERFDE kinders eet én drink by restaurante. Griet het vinnig uitgewerk dat vlatert lekker is, en dan drink sy haar  pens agterna trommeldik vol water in die spesifieke restaurant se ‘poeierhuis’. Hierdie ablusiegeriewe was goedgekeur in Ouma Anna Cornelia se boekies. Sy ys as sy nou agterna wonder wat IS alles daarbinne gepoeier. Toemaar.

Tuis gekom, het Griet en haar boetie absoluut saak gehad met nuwe aankope. Nee dankie, hulle was nie lus om dit aan te trek en vir Oupa te wys nie. En die uiterste, maar absolute uiterste straf was as Gertruida die poef-masjien uitgehaal het. Die gewraakte ding is die hoofrede agter die meeste redes hoekom Griet ooit pakgekry het. ‘n Poefmasjien is ‘n laakbare bedryfsel wat aan die een kant opgevul is met poeier, en terwylde die gemartelde kind al in die rondte draai, druk die perfeksionistiese ma ‘n kussinkie wat die poeier uitblaas deur ‘n staalgleufie, sodat die rok se soom gemerk kon word. Sodoende kon die soom reguit ingesit word. Dan moes die dogtertjie duisend keer in die rondte kom draai om te kyk of die soom nie punte hang nie. Griet en Gertruida se verhouding het daar regtig skade opgedoen.

Griet doen dinge baie eenvoudig met haar dogters. Sy koop die rokke die korrekte lengte. Of sy koop glad nie die rok nie. As die denims te lank is, rol die eienaar die denim op. As dit die eienaar irriteer, is sy meer as welkom om die broekspype korter te sny. Of vir Tannie Elize se ousie te vra om dit af te werk. Plonks, soos Nataniël sou sê. So blerrie maklik. Wat nie pas nie, word aanvaar as ‘n teken dat dit nie gekoop behoort te word nie. Hoe ‘n mens lyk is eenvoudig net nie so belangrik dat jy moet werk om mooi te lyk nie. Oor en uit.

Nou wil Griet graag vra: Wat se aantrekkingskrag is dit wat winkels met haar het? Want ten minste twee keer op ‘n dag word sy algemene kruidenierswinkel toe gestuur, vir iets wat iemand in die huis nodig het, twee keer ‘n week na die videowinkel, een keer vir die uitneem en eenkeer vir die terugneem, ten minste twee maal ‘n week het iemand die apteek nodig, aangesien daar vyf mense en sewe troeteldiere die woonperseel behuis, ten minste een maal per week het iemand êrens nuwe klerasie of bietjie purgasie nodig, en dan moet ander dinge nou ook in ag geneem word, soos hondekos, lemme vir die grassnyer, skoonmaakmiddels wat per grootmaat aangeskaf word, maar ook opraak, karolie, benodigdhede vir die tuinier, aanvulling van stukkende gloeilampe, besigheidsbenodigdhede, wat insluit enige iets van papier, drukkersink en lêers  tot die betaling van die posbus, ensovoorts…. En dit word afgerond met die daaglikse vervoer van Griet se tweeling en oudste na skool, en gaan haal by die skool. Griet het nog nie gekom by die buitemuurse uitstappies, noodritte na vriendinne vir hulp met skooltake, trippies na haar x-gade dat die spruite gou kan goeiemiddag sê, Ousus wat later afgelaai wil word, ‘n vriendin wat asseblief tuis besorg moet word weens omstandighede en die tandarts wat maandeliks besoek moet word nie.

Tussen al hierdie dinge is Griet gesellig, maak ontbyt, middagete en aandete, hanteer beneukte tieners, en antwoord altyd die kantoor telefoon vriendelik en behulpsaam. Dis hoekom sy ‘n teoloog geword het, en ook haar eie skooltjie het. Sy hou daarvan om beproef te word, die vrug van die gees te vertoon, en wil haarself graag planke toe werk sodat haar kinders eendag kan sê: “Ja, my Ma was ook alewig beneuk en moeg, en te besig om enige aandag aan ons te gee. Elke middag na skool was sy vies as sy twee of drie keer moes rondry, en sy het nooit tyd vir ons gehad nie. Ek wens sy het nie so hard probeer om ook die pot aan die kook te hou nie. Wat is belangriker, kwaliteit tyd of liefde?!”

Griet het lankal aan hulle probeer tuisbring dat die liefde vir kopies,vernaam inkopies, hierdie gejaagdheid, arbeidsaamheid, en vinnige lewe tot gevolg het.Dit val geheel en al op dowe ore. Dit maak nie saak dat hul ma met een kostuum deur haar hoërskoolloopbaan gegaan het nie, hulle moet elke jaar asseblief ten minste vier verskillendes hê vir verskillende gebruike. Al werk dit uit na agt altesaam. Dit maak nie saak dat hul ma se skoolskoene twee jaar en meer moes hou nie, hulle begin elke jaar met ‘n nuwe paar. Dis geestelik opbouend. Hulle dra nie laas jaar se skoolrokke nie, hulle is nie armoedig nie, en waarom moet jy minder as drie stukke informele drag in jou kas hê? Asseblief. Jy het plekke om te gaan en dinge om te doen. Die feit dat Griet se denims sewe jaar en ouer is, bewys haar algehele gebrek aan modebewustheid.

Ja. Griet het ‘n pyn met winkels. Sy wens die bleddie goed wil bordjies opsit en verklaar dat niemand onder agtien toegelaat word nie. En dat volwasse vroue dit slegs mag besoek uit vrye wil.

Advertisements

5 thoughts on “Die Winkels

  1. Suster jou ma het n punt beetgehad…. Kyk hu goed het jy uitgedraai. Dis jou eie skuld jy soos n afkop hoender moet rondhol agter bedorwe brokkies an. Jy moet leer om NEE te se. Eenkeer n dag dorp toe te gan en as hul aterkom hul het ietsie vergeet kan hul altyd dapper stapper dis net 3 blokke tot by P&P en sommer goeie oefening ook. Kry vir jou n swartbord in di kombuis sodat almal da op kan skryf wat nodig is. Jou lewe sal baie rustiger wees en jou brandstof sal langer hou en di kar se bande ook. Eks baie lief vi jou mq mar dis jou eie skuld jys n vreeslike gehoorsame ma. XX
    Sent from my BlackBerry® wireless device

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s