Griet bly kalm.

Griet het pas haar Time Magazine van die week gelees. Ja, haar plaaslike Facebook Nuus. Sy weier om enigsins Televisie te kyk, dit meng nie met haar bloedgroep nie en veroorsaak Alzheimers. Sy kan glad nie ‘n radio verdra nie, kleintyd het haar ma altyd gesê sy mag net Siembamba luister. En toe kry sy een middag lus vir die bose, en gaan eet saam met haar tjomme gekookte kondensmelk en luister na “Wolwedans in die Skemer”. Nee, te dinges. Radios is vir Pa’s wat tuinwerk doen, en dan bier drink terwyl hulle rugby luister en vreeslik moeg lyk.

Griet moet erken dat sy nie ‘n “ore”-mens is nie. As die buurman en sy vriende hoog in die takke is van aaptwakkies rol, is nie een van hulle lagbuie vir haar vreeslik snaaks nie. Kar-enjin rev is vir haar eenvoudig. Sy kan net nie werk en musiek luister nie. Hoe dink en luister mens saam? Haar kop wil stry met die wysie van die musiek, haar logika wil stry met die argument van die filosoof, haar oog is besig om soos ‘n meester-rekenaar elke spelfout uit te sif, te kritiseer en te elimineer, en haar siel wil nadink oor die diepere aspek of die derde dimensie van dit wat sy tans besig is om te beleef of te leer. En dan, behalwe die wysie wat skeef is, verander die kunstenaar midde in als sommer die “tyd” van die musiek, slaan oor in ‘n ander sleutel, sing woorde wat rym maar wat boggerol sin maak (“kan jy by my kom lê, ek is ‘n loslappie” – hoe kan jy by ‘n loslappie slaap, duidelik slaap iemand anders al klaar onder die lappie…?? – ag asseblief).

Dieselfde geld vir gesprek voer. Dit slaan Griet stom hoe sommige families kommunikeer. Pa praat oor Ouboet se kop met Kleinsus terwyl tant Koekie vir ouma Dora skree wat langs Ma sit, en Ma praat met tannie Elize wat oor die draad hang. Tannie Elize wil iets weet van die skool se skaaktoernooi, want oom Boet het gaan visvang en Kleinboet is saam en Ouma Dora wil vetkoek bak, maar tant Koekie sê oor haar dooie liggaam kry die seuns iets as hulle wiskunde huiswerk nie voor vanaand gedoen is nie. Kleinsus is dadelik opgeruk en skree Pa moet help want sy en Ruan van langsaan het met oom Boet gereël dat hulle sokkie toe kan gaan. Hulle wil nie vetkoek hê nie, hulle wil gaan dans, rook en skelm vry. He?!!!?

Dit bring ons by die eintlike tema van Griet se skrywe. Die liewe woordjie “CHAOS”. Geen wonder die woord impliseer soveel wanorde, gemors, vulkaniese ontploffing-agtigheid, totale gebrek aan beheer, wildheid, ongetemdheid (sonder passie en mét vullis), angstigheid, gemorste koffie, beblertste dokumente, pap wiele, raakgeryde katte en geklapte kinders in nie.

En net om dinge af te rond, het Griet haar eie persoonlike lysie begin maak. ‘n Lysie van dinge wat vroëer in haar lewe gewerk het, maar nou vanweë CHAOS uitgedien geraak het. Sy skryf:

1. Die Munisipaliteit. Haar kinders praat nie meer van “potholes” nie, maar van “potholle”. As sy en haar tjom Hanna êrens heen ry en ‘n verversinkie soos ‘n ou Wimpy koffiekie geniet, drink hulle dit maar soos ‘n shower van die kar se dak af. Want Griet koes dat hulle nie in ‘n “never-ending-hole” verdwyn nie.

2. Telkom. Eers het Griet gedink dis net haar familie in Johannesburg wat opgeskeep is met die euwel van Telkom. Internet wil dag en nag NIE werk nie. Snaaks, Griet het eintlik gedog dat internet beteken mens is feitlik altyd en oral beskikbaar. So maklik dat dit amper lastig is. Maar hier in Afrika verander dinge nou. Hier kan jou familie en anties en omies vir weke wegraak en stilte jou vriend word.

3. Eskom. Griet het van daai nuwe Colgate met Active Salt gekoop om haar te herinner dat die Bybel sê ‘n mens se woorde moet met sout deurdrenk wees. Vloek is so uit soos koekies in die weeshuis. Genoeg om te sê dat “spoorlose, draadlose, kabellose” Afrika, ook nou “donker Afrika” geword het.

4. Nou wonder Griet skielik. Hoekom werk die Lotto tiekets nog??? Ok wag dis eintlik nie deel van die lysie nie. Wag sharrap, netnou kry iets of iemand êrens ‘n verkeerde idee.

5. Pay-point masjiene. Dis ‘n snaakse een. Mens moet twee weke se kos koop, en dan jou bankkaart indruk by die masjientjie, en dan se Emily of Portia hulle gaan die manager roep. Die manager kom baie stadig, want belangrike mense loop lank aan ‘n kort entjie. Hulle vat jou kaart en dan trek hulle die kaart liewer deur die gleufie. Hulle frons baie en trek en trek en trek. Dan praat al die mense saam en Griet verstaan niks, en iemand sê iets van “offline” en Griet dink aan die kind wat op die selfoon speel en die babahond in die kar. Sy weet die hond eet nou die rathefboom en die kind “delete” al haar “contacts”. Die manager stuur haar van een pay point punt na die ander, en net voor sy uitpaas, gaan die koop tjoef tjaf deur. Griet hol kar toe, en die kind skree: “Ma die hond het gepie in die kar. Waar was jy?” Dan moet Griet stilbly want ten minste het die kind nie ‘n glips gehad nie.

6. Openbare toilette. Knyp en ruk en rol deur potholle en slaggate. Kom verlig aan by ‘n vulstasie en hol met jou tweerand stukkie vir die naaste la-die-da’s. En kaboem, die betaalkassie is gejêm. So wat nou?? Jy glimlag vriendelik, druk die geldjie in by die  deur van die mansbadkamers, stap in en stel jouself voor, belowe jy sal nie lipstiffie opsit nie en maak so spoedig moontlik klaar. Viva Afrika, welkom by die reënboognasie waar seuntjies en dogtertjies nou saam piepie.

7. Vulstasies sonder petrol. “Sabona kunjani e wena okae more gutentag hallo dag.” En nou? Nou geen petrol nie, die trokdrywers staak. Suid-Afrika is sonder krag, sonder internet, sonder paypoints, sonder petrol, sonder paaie en ons blase is vol. ‘n Paar ander goed is ook op. Soos ons geduld.

8. Skole sonder subsidies. Maar propvol stupidities. “Geagte Meneer/Mevrou. Die skool se KOPERpype is gesteel en die toilette loop oor. Ons doen wat ons kan om die krisis so gou as moontlik reg te stel. Die kinders kan nommer 1 as dit moet, maar nommer 2 is uit.” Ekskuus? Griet wil nie graag raadgee met steel nie, maar persoonlik sou sy liewer telefoondrade verkies het. Higiëne behoort darem ‘n rol in ‘n mens se lewe te speel.

9. Strate en asbliksakke. Dis skielik verskriklik maklik om te glo die duiwel en demone bestaan. Vir diegene wat sukkel daarmee, nooi Griet innig om saam met haar te kom draf op ‘n Maandagoggend. Eerste hardloop sy verby ‘n plastieksak met takke om dit. Die eerste oggend het Griet amper uitgepaas toe “iets” vingers deur die plastiek steek en begin beweeg. Dit was ‘n mens wat daar slaap. Nou hoor sy haar tjom lewer vir die mens gebalanseerde maaltye af. Die res van die dorp het “asbliksak-speurders”. Hulle skeur, verskeur, maak bymekaar, en roep medespeurders in om te kom help bymekaarmaak. Teen die tyd dat hulle klaar is, lyk die dorp soos ‘n publieke ashoop. Maar dis ok, dit help Griet vinniger fiks word. Sy hardloop dat sy bars verby party mense se huise. Sy weet nie WAT hulle eet nie, maar mensdom, dit het ‘n naklank.

In alle geval.

Griet is nou moeg. Moeg vir gemors, chaos, als gelyk, geraas, gate, gopse, en haar eie groot ……….. wat al hoe groter word. Sy dink volgende keer moet sy skryf oor dieet.

Advertisements

2 thoughts on “Griet bly kalm.

    1. Ha. Ek sou net graag eers by Pa wou leer hoe om ‘n ordentlike Sniper te wees. Dan kon ek dinge DOEN aan situasies, en skryf onder ‘n skuilnaam…. Jissie amper soos Robert Ludlum of so iets…

      Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s