Griet se Kar

10436200_906409002745066_148955088313488026_n

So ongeveer tien jaar gelede het Lodewyk vir Griet ‘n wit motortjie aangeskaf. Presies volgens Griet se spesifikasies, behalwe wat die kleur aanbetref. Griet hou niks van wit nie, sy wou silwer hê, maar taffies vir haar. Daar was ‘n witte beskikbaar, en baie dankbaar het sy ontvangs geneem van haar tjor. Klein, vierkantig, en sy kan zip zap met die gedoentetjie deur die verkeer (?!) jaag en hoef net parallelparkering te doen as sy windtie voel.

Saterdag gebeur daar toe ‘n wonderwerk. Die tweeling gaan kuier by tjommies, Ousus wil huis oppas, en Griet en Lodewyk gaan op ‘n uitstappie na ‘n naburige dorp. Hulle gaan ontbyt eet daar, en sommer nuwe koord-fone aanskaf vir die kantoor. Aangesien die tweeling die koordloses gaps en in die kamers gaan chat met vriende, die apparate in hul kaste vergeet, en niemand die kantoor kan bestuur as dit bestuur moet word nie.

So tien minute in die reis in frons Lodewyk geweldig. Griet loer so onderlangs na hom. Sy is besig om kalm te wees en lipstiek op te sit, wat natuurlik haar leuse is op ‘n uitstappie. Verder sit en droom sy oor haar voorgenome ontbyt. “Die kar se balans is uit.” sê Lodewyk. “Ag moenie worry nie,” is Griet se antwoord. “Hier is lekker baie potholes, ons ry net deur ‘n paar en ons skud hom weer terug.” Lodewyk probeer nie eers glimlag nie. “Dis verskriklik erg tussen 80 en 100, voel net” en hy sit Griet op ‘n high voltage vibration kursus.

Griet voel vere. Niks gaan haar droomuitstappie bederf nie. Sy gaan eet haar ontbyt, koop goeters vir haar nuwe stokperdjie, doen windowshopping, en geniet die lewe. Hulle ry terug en Lodewyk pomp gou die bande en gooi petrol in. Lekker man, lekker.

Ses kilometer verder en KABAM!!! Griet sit penorent. “Wat het nou gebeur??” skree-vra sy. “Die wiel het gebars” antwoord Lodewyk kalm. “Nou wat nou?” vra Griet. Dis presies 120km huis toe, klein bietjie verder as wat sy daagliks stap, of van plan is om vandag te stap. “Ons gaan die wiel omruil,” antwoord die immer kalm Lodewyk. Hy klim uit, haal die spaarwieletjietjie uit (jip, maerder as ‘n mariebiscuit op dieet) en sê sy vrou moet kywie hou. Mens kan nie op ‘n ordentlike plek stop nie, en in Natal bestuur die mense soos wat hulle stem. Gelukkig het sy ‘n wit driekwartbroek aan en het die laaste drie jaar lekker stewig geword, so Griet plant haarself soos ‘n standbeeld in die middel van die pad, sit haar Paul Kruger gesig op, en steek haar vinger in die lug as dit net lyk asof ‘n kar wil aankom. Niémand gaan háár Lodewyk vandag so plat soos ‘n padda onder haar eie kar inry nie.

Tuisgekom, parkeer hulle vir kar in die motorhuis en wag tot Maandag. Toe begin die rusie. Griet het ‘n sprankie Joodse bloed, en voel boggerol sleg om ‘n kliënt te kontak en te vra vir ‘n goeie prys. Aangesien Lodewyk alewig sy alie afwerk vir Peanuts. Lodewyk neem al weer die ‘high moral route’ en sê sy mag die prys uitvind maar onder geen omstandighede sy naam, haar naam of die praktyk se naam bekend maak nie. Griet gooi amper op.

Die uiteinde van die saak is dat die band vervang word, en als gebalanseer word, teen eenduisend tweehonderd rand later.

Dis niks. Later die middag kry Griet ‘n brief op haar tafel. Haar bestuurslisensie gaan verval. Sy slaan bollemakiesie agter haar tafel en skree en huil soos net sy kan. Gelate betaal haar kalm man die bedrag oor na haar rekening, en gelate hoor hy haar tirade aan omdat sy nou in die tou moet gaan staan op die &%^*(#$ lisensie te gaan betaal.

Die stof het net gaan lê, toe kom Lodewyk van die posbus af. Met ‘n briefietjie. Die briefietjie stipuleer: Betaal jou bestuurslisensiekaart, die ding gaan verval. Griet drink ‘n kalmeerpil en gaan bad. Vanweë haar genetiese samestelling is sy geheel en al allergies vir munisipaliteitskantore, die konsep van om in ‘n tou te staan, en oogtoetste te doen, en die blote gedagte aan vingerafdrukke maak haar histeries. Omdat dit beteken dat mens in verskillende toue moet staan.

Vanoggend vroeg gaan trek sy toe maar geldjies, verbrands amper vyfhonderd rand, laat neem kiekies wat haar amperse dubbelken wys, en word nommer een voorgekeer deur ‘n …. spietkop. Sy wonder nog wat het sy verkeerd gedoen, toe daar om die beurt ‘n vangwa, ‘n gevangenismotor, ‘n spietkopkar en dan die hele sous van voor af drie keer oor verby haar gejaag kom. “Ag dis niks;” troos die fotograaf by die id foto afdeling. “Daar het maar weer ‘n bandiete uit die tronk ontstnap.” HET ONS DORP SE TRONK NIE SLEUTELS NIE?!

Griet verskuif munisipale toetsgronde toe. Daar is vyf persone in die kantoor. Sy, ‘n oom wat wag, ‘n meneer wat instruksies gee, iemand wat lekker met die meneer gesels, en ‘n dame wat weg is wat netnou sal kom. Sy voltooi haar papiere en wag. Na ‘n halfuur maak die man langs haar keelskoon. “Verskoon tog” vra hy bedaard aan die meneer wat instruksies gee. “Wat gaan aan? Wanneer word ons gehelp?” “Eh…. ” word daar geantwoord. “We are waiting on a madam.” “Oh.”

Griet en die man wag. Toe gesels hulle maar. Hy vertel was vroeër jare stasiebevelvoerder hier. En dat hy ‘n paar luies ‘n taai klap of twee gegee het. Griet luister met ‘n houtoor, sy het al baie stories gehoor. Maar dis aangename geselskap. Veral toe die man langs haar hardop wonder wat gaan gebeur as die tafel waarop die meneer ry se pote ingee en breek. Griet kyk ondersoekend, en ja wragtig, die skarniere is gaar en die hele besigheid staan klaar skeef. Maar die geselskap is so driftiglik, die geselskappers kom niks agter nie. Ewe skielik kom daar ‘n donkerkoptannie om die hoek gedraf.

“James!” skree sy. “Hier is jy!” “Ja!” skree Griet se geselskapsheer terug. “Is hier nie tee vir twee nie?” “Nee!” word dit geantwoord. “Magtag dis lekker om jou na al die jare te sien!!” en kwetter kwetter kwetter gaan die bekke. Griet word naderhand geroep om in te gaan vir die toets, maar dis James se beurt. Sy volg sy voorbeeld en skree: “Hey, kom jy is eerste!!”

Hy draai om en skree terug: “O ja, julle, ek het vergeet om te sê: Ek het my dogter saamgebring! Is sy nie te pragtig nie? Gaan jy solank hoor, ek is net na jou daar!!”

Griet se bek hang oop.

Sy het ‘n gebedjie opgesê dat die besigheid klaarkry, maar sy het nie gedink ‘n engel gaan rerig aarde toe kom net om aan haar behoeftes en nukke aandag te gee nie.

“Dankie Pa, ek is nou klaar!” skree sy.

En later, toe sy voor James in die laaste tou staan, draai sy om en sê vir hom met ‘n breë grinnik: “Weet jy, ek wil al wie weet hoe lank so graag ‘n Pa hê. En hier tel ek sommer een op. BAIE dankie hoor.”

James knipoog.

En Griet stap uit, haar droom waar gemaak op ‘n baie, baie weird manier.

Advertisements

One thought on “Griet se Kar

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s