GRIET SE KAAS-EN-WYN KURSUS

Jare en jare gelede, toe die wereld nog jonk was en Griet nog menthol-sigarette gerook het sonder om soos Gehenna te ruik (of plooie te kry), sexy gelyk het in ‘n kort rok en kon wegkom met net maskara aan haar gesig, toe het sy ‘n “diep” kursus bygewoon.

Vreemd. Want Griet was glad nie in ‘n baie diep fase in haar lewe nie. Sy was eintlik maar ten diepste geinteresseerd in haar voorkoms, en hoeveel mans sy met die voorkoms kon beÏndruk sonder om tegnies ontrou te wees aan haar eie man. Wreed en waar, maar die lewe het haar goed en deeglik teruggeklap en sy het opgeeindig as die pampoen en nie Aspoestertjie nie.

Tydens hierdie gevaarlike fase kry Griet toe ‘n boek in die hande. Die titel: ‘Who moved my Cheese?’ Sy begin dadelik lees, want vir haar beteken enige iets met Kaas noodwendig ook Wyn. Sy is besig om ‘n kursus te doen in die Kaapse Wynmeesterskuns, wat haar gesellig lighoofdig maak op Woensdagaande – wanneer ses wyne geproe en bespreek word. Griet blink nie noodwendig uit in die kursus nie, maar sy blink uit in die konsumpsie van die wyn (en  meegaande verversings.)

Griet verstaan feitlik nie ‘n snars van die boek wat sy lees nie, behalwe dat twee mal muise met tekkies aan weet hoe om te hardloop waar daar kaas is. En dat twee ander te lui is om die kaas te gaan soek, en hulleself in ‘n depressiewe en bedroewende toestand  in sit en stry. Sy verstom haar, want as sy honger is sal sy enige iets doen om kos in die hande te kry. Punt klaar. Griet het ‘n gesonde aptyt. Die filosofie ter sprake gaan geheel en al by haar blonde kop verby.

Sy lees die boek klaar, en vergeet daarvan. En haar lewe stap aan, en Griet val halsoorkop van een moeilike situasie binne in ‘n ander een.  Eintlik val sy nie, sy katapult  soos die “rides” by haar dorp se Mayfair-pretpark fees.En nes sy meen sy is nou finaal in haar glorie, dan tel iets of iemand haar weer op ‘n berg, net om haar weer soos ‘n frisbee ‘wieeeeeee’ te laat los. Sy huil en skree en trek haar hare in knolletjies uit haar kop. Sy beseer haar brein soos sy dink. Sy hardloop na komkrimpers wat haar geld steel en vir haar se: “Mmmm…. dus se u dat….”

Griet gaan doen selfondersoek en studeer teologie, ‘n hele paar jaar. Sy word diep en ernstig. So nou en dan kom haar vrolike kant nog steeds uit, want sy kan ‘n grap nie weerstaan nie. Maar Griet doen goed, want sy is op ‘n beter roete. Tot die dag dat Griet se Professor sowaar weer vir haar ‘n boek pos. Suiwer perongeluk is dit toevallig weer die gewraakte “Who moved my Cheese”.

Griet gaan sit op die gras.  Baie, baie versigtig maak sy die eerste bladsy oop. S-T-A-D-I-G begin sy lees.

Toe sien sy dit. Die hele probleem in haar lewe was al die tyd nie dinge wat so haastig verander het nie. Om die waarheid te se, sy is goed met omstandighede wat draai. Sy is goed met kop-onderstebo-wees in pretparke. MAAR HOEKOM DE JOOS WONDER SY ALTYD AGTERNA OF SY NIE ANDERKANT TOE MOES BEWEEG HET NIE??? Griet se probleem is nie die kaas wat weg is nie, haar probleem is “WHAT KIND OF CHEESE DO I WANT?”

Toe gryp Griet ‘n papier. Heel bo-aan skryf sy:
GOED WAARVAN EK HOU.

Eerste skryf sy:
1. EK HOU VAN BLOU. Want Griet het in haar kinderdae haar kniee deurgesmeek vir ‘n blou kamer, en sy is hiper allergies vir pienk.

2. EK HOU VAN MANS. Sy het ‘n kortverhaal gelees wat verduidelik het dat,as mens sestig jaar terug kon se mans is vir jou interessant, mens dit vandag nog mag sê. Sonder enige perverse bybedoelings. Dis interessant is om te sien hoe kam mans hulle hul hare (die wie nog hare het), wie groet wie eerste, watter een is die sterkste, die snaakste, die stilste, die slimste, en wie se vrou sit op sy kop.

3. EK HOU VAN BROOD. Griet se grootste begeerte is om ‘n hele witbrood met vars botter en appelkoosjam alleen in ‘n hoek te gaan sit en opeet, glad nie skuldig te voel nie, en nie ‘n happie met iemand hoef te deel nie.

So hou sy aan skryf. En later word dit maklik om te sê waarvan sy hou en waarvan nie.

Sien, Griet het grootgeword in ‘n wereld waar sy nooit kon kies nie. Sy moes vat wat sy gekry het. En as sy dit nie wou vat nie, was’n pak haar voorland. Baie maal het sy  Kaas gevra, en meel gekry.

As jy nie eers weet van wat se soort kaas jy hou nie, hoe kan jy weet of iemand dit geskuif het? Maar as jy weet waarvan jy hou, dan soek jy dit, al het iemand dit tydelik weggesteek. En as jy dit kry, lag jy oopbek.

GRIET-SE-OORSRONG

Griet moet haarself bekend stel. Veral vandat sy met ‘n skok verneem het dat haar naam dieselfde is as die skuilnaam van die vermaarde skryfster, Marieta van den Vyfer. Griet wil dit graag baie, baie duidelik maak dat sy glad nie in kompetisie is met Marieta nie.

Griet is ‘n doodgewone ma, wat woon in ‘n doodgewone plattelandse dorpie. Sy het ‘n dogter van so om en by een en twintig jaar, en is geseën met ‘n buitengewone kreatiewe tweeling (wie agt jaar later opgedaag het).

Dis tydens een van die tweeling se prysuitdelingsessies dat hierdie gewone ma ‘n Griet diep in haarself ontdek het.

Op die betrokke prysuitdeling, het kinders links  en regs trofee ontvang. Hierdie doodgewone ma het langs haar doodgewone eks-man gesit, en beide het hulle verwonder aan die intelligensie van ander mense se kinders, toe die skoolhoof skielik aankondig dat die “Griet Swart Wisselftrofee” vir Geskiedenis nou uitgedeel sou word. Sy en die tweeling se Pa het mekaar aangegaap, en het terstond in ‘n klipharde lagbui uitgebars wat by beide verander het in ‘n ernstige tering-agtige hoes. Voor sy met daardie trofee huis toe sou moes stap as kind, het sy waaragtig waar liewer Geskiedenis gedruip.

Stel jou dit voor. Ma en Pa sit in die sitkamer. Sondagmiddag en Ouma en Oupa en Tant Koekie en Oom Ben en die Nefies en die Niggies kom oor. En Pa maak keelskoon en sê ewe trots: “Hmm. Nou ja. En daar wen Sofia toe die Griet Swart wisseltrofee vir Geskiedenis”. Ek skaam my so dood, ek klim liewer deur my kamervenster en vlug as ek die gaste sien aankom.

Daar is egter nog ‘n geheim ook aan die saak verbonde.

In die giggelende, hoesende Griet se besige verlede, was daar darem een ding wat sy goed kon doen. Verskriklik, vreeslik uitstekend goed. Sy kon vinniger en meer lees as enige kind in haar klas. Sy het gelewe vir lees. ‘n Juffrou ontdek en ontgin toe die gawe, en sy word onmiddellik ingeskryf vir  ‘n kunswedstryd. Tydens haar eerste deelname wen sy sommer ‘n eerste prys, ‘n goue A, toegeken deur ene Miems de Bruyn, van Nommer Asseblief faam.

Goeie talent moet ontwikkel word, en die onderwyseresse staan tou om Griet te bespreek vir die die laaste periode op ‘n  Vrydagmiddag. En watter storie is daardie jare gewild, bekend, selfs beroemd? Liewe Heksie. Griet leer woerts warts om liewe Heksie se stem na te maak, so deksels oulik, dat haar pa vir sy sexy jong vroutjie beduie hoe sy maklik kan weet as sy dogter bel. Al wat sy moet doen, is om te hoor of Liewe Heksie op die foon is. In alle geval, Blommie en Kwaaikie Kabouter se stemme volg, en Karel Kat ook. Griet, die perd, is in besonder glad nie ‘n probleem nie.

Dis met die gedagte aan Griet-die-perd, dat Griet toe amper van haar stoel afval, veral toe sy verneem dat haar perd nou ‘n wisseltrofee in die Geskiedenisklas geword het. Sy is terstond huis toe, en het haar lewe deeglik in oënskou gaan neem. Iewers het sy iets gemis. Erens het iets aan haar deur kom klop en sy het dit nie gehoor nie. En toe gaan die lig vir haar op.

Ons leef nie meer in die era van boekvoorlesings nie, behalwe vir blindes. En dis gewoonlik ook net die Bybel in Zoeloe. Vir Zoeloe sien sy nie kans nie, sy leef tussen hulle en een woord is al ses-en-sestig letters lank en kan twaalf dinge beteken. Nee, glad nie. Skrýf is die oplossing.

Vir publiek skryf sien sy egter nog nie heeltemal kans nie. Griet was ietwat van ‘n dowwe perd in Liewe Heksie se verhaal. As sy dit nou nie mis het nie, was Griet ‘n holrug perd, wat nie altyd mooi wou teruggetoor word nie. So tot tyd en wyl sy geolie raak in haar kuns, bly Griet Anoniem. Daarna kan sy Werklikheid word.

Griet pluk haar skootrekenaar oop. Sy begin stories tik en dis vir haar verskriklik lekker. En sy teken alle apologie aan teenoor alle beroemde skrywers wat in Frankryk bly, want sy bly in Kwa-Zulu Natal en eet nog Transvaalse mieliepap as die gier haar pak.